Zephany Nurse se grootmaakma glo steeds dat sy verkeerdelik skuldig bevind is en hou vol sy het haar nie gesteel het nie.

Dit is van die inligting wat Maandag tydens die eerste dag van vonnisoplegging in hierdie opspraakwekkende saak aan die lig gekom het.

Die vrou, wie se naam nie bekend gemaak is nie om Zephany se identiteit te beskerm, is daaraan skuldig bevind dat sy die tiener negentien jaar gelede uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel het.

“Sy toon nie enige berou nie,” het Mark Steyn, ’n kliniese sielkundige, Maandag vir die verdediging getuig. “Sy glo sy is net skuldig aan die grootmaak van Zephany, nie dat sy enigiemand kwaad wou aandoen nie.”

Mark het dertien sessies met die ma in die Polsmoor-gevangenis gehad om haar geestestoestand te probeer bepaal.

Die vrou is in Maart vanjaar skuldig bevind op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van sekere dele van die Kinderwet.

Mark het ook getuig dat sy haarself as ’n moederlike figuur sien en “die meeste liefde ervaar het wanneer sy by kinders is”.

Volgens hom sien sy graag om na die kinders in haar familie en sy het ook ’n aangenome seun grootgemaak.

Die hof het gehoor sy het ’n moeilike tyd as kind gehad veral omdat haar ma vir haar en haar broers en susters by hul ouma gelos het.

Die staat het egter Mark se getuienis in twyfel getrek en aangevoer dat hy deur die vrou gemanipuleer is.

Zephany se biologiese pa, Morne, het begin huil toe hy in die getuiebank aan die hof vertel dat die Nurse-familie gebroke is.

Celeste Nurse, Zephany se biologiese ma, het getuig dat sy haar eie lewe probeer neem het na haar kind se verdwyning. Sy het ook gesê dat haar huwelik daaronder gely het.