Die beskuldigde, wie se naam nie genoem mag word nie omdat dit daartoe kan lei dat Zephany Nurse se huidige identiteit bekendgemaak word, beweer sy het die baba op 30 April 1997 by Wynberg-stasie ontvang nadat “vrugbaarheidsbehandeling” deur ’n vrou genaamd Sylvia misluk het.

Op ’n vraag deur haar prokureur, Raez Khan, het sy gesê sy het Sylvia in Tygerberg-hospitaal ontmoet kort nadat sy ’n miskraam gehad het. Sy beweer sy het geen vooraf kennis gedra dat die baba op daardie dag aan haar oorhandig sou word nie.

Lees ook: Grootmaak-ma getuig in hof: So het ek Zephany gekry

“Ek het nie geweet wie die baba was wat aan my gegee is nie, waar dit gebore was of wie die ma was nie,” het sy getuig.

Sylvia het haar glo vroeër vertel van ’n jong ma wat nie haar baba wou hê nie en sy was onder die indruk ’n wettige aanneming is gereël. Nadat die baba aan haar oorhandig en sy glo aangesê is om na ’n hospitaal in Retreat te gaan, het sy Sylvia gebel, en dié het vir haar gesê die verpleegster wat haar sou help is nie beskikbaar nie.

“Ek het die baba gehou omdat ek gedink het haar ma wou haar nie hê nie. Ek sou dit hou tot die aannemingsdokumente reg was. Ek het nie geweet sy is ontvoer nie.”

Lees ook: Zephany Nurse-raaisel verdiep

Die vrou, wat vier maande voor die baba se ontvoering ’n miskraam gehad het, het gesê sy het nie vir haar man vertel van die aanneming nie omdat hy en Zephany “so ’n hegte band het”.

Hy het nie geweet sy het haar baba verloor nie en het geglo Zephany is sy kind. “Ons het so geheg geraak. Ek was van plan om haar te sê, maar het aan haar opvoeding gedink. Ek sou hulle gesê het nadat sy met matriek klaargemaak het.”

Regter John Hlophe het haar gevra of sy probeer uitvind het wie die biologiese ouers is. Sy het hierop geantwoord sy’t Sylvia probeer opspoor, maar haar nooit weer gesien nie, selfs al het sy gegaan na die hospitaal waar hulle ontmoet het.

“Ek wou die biologiese ma se besonderhede hê om eendag vir die kind te kon sê wie haar ma was. Ek het probeer. Ek het nie vir haar gaan soek nie, omdat ek nie geweet het waar die kind gebore was of vanwaar die ma was nie.”

Sy het getuig al wat sy geweet het, was dat die kind op 30 April gebore is. Dis die dag waarop die drie dae oue Zephany ontvoer is.

Die beskuldigde staan tereg op aanklagte van ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet. Sy het onskuldig gepleit.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Liefdesdriehoek’ eindig tragies

Die lelikste en mooiste: Oscar-rokke wat wenkbroue lig

Verbygaande verpleegster red man ná weerlig hom tref

10 skreeusnaakse reaksies op Leo se Oscar-glorie

Leonardo DiCaprio se Oscar-droom word uiteindelik waar