Die raaisel van wie die geboorte van die ontvoerde Zephany Nurse in 2003 by binnelandse sake op Malmesbury gaan registreer het, het Donderdag in die hof opgekom.

[caption id="attachment_118525" align="alignnone" width="600"]Celeste vertel sy was maar 18 toe Zephany gebore is. Foto: Verskaf Celeste vertel sy was maar 18 toe Zephany gebore is. Foto: Verskaf[/caption]

Volgens die getuie Gerhard Kotze, huidige bestuurder van die kantoor, kan die ma, pa of ’n familielid met gesertifiseerde afdrukke van die ouers se identiteitsdokumente ’n biologiese kind vir ’n geboortesertifikaat registreer.

Lees ook: ‘Gee my die kind’ – vrou getuig dramaties hoe Zephany Nurse se grootmaakma ook haar kind wou ‘steel’

Daar is egter nie ’n manier om te weet of daardie mens wel ’n familielid was soos beweer nie, het hy getuig. “Ons maak gewoonlik ’n afdruk van en sertifiseer die ouers se identiteitsdokumente. Maar ons aanvaar afdrukke wat deur die polisie gesertifiseer is.”

Die kantoor het nie die oorspronklike aansoekvorm nie en kon nie uitklaar wie die kind 13 jaar gelede, toe sy reeds ses jaar oud was, geregistreer het nie.

Die beskuldigde, wie se naam nie bekendgemaak mag word nie omdat dit daartoe kan lei dat die tiener geïdentifiseer word, staan tereg op aanklagte van ontvoering, bedrog en die oortreding van die Kinderwet.

Die staat voer aan die 51-jarige vrou van Lavender Hill het die drie dae oue baba op 30 April 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal gesteel terwyl die ma geslaap het.

Die beskuldigde het in haar pleitverduideliking die ontvoeringsklag weerlê en gesê ’n vrou genaamd “Sylvia”, wat vir haar vrugbaarheidsbehandeling voorsien het ná ’n miskraam, het die kind vir haar gegee.

Sonder dat sy vooraf daarvan geweet het, het Sylvia glo gereël dat die baba by Wynbergstasie oorhandig word. Die vrou sê sy was verbaas omdat sy verwag het om haar te ontmoet om oor die aannemingsproses te praat.

Sylvia het glo beweer sy het die aanneming gereël omdat sy geweet het van ’n vrou wat nie haar baba wou hê nie omdat dit ’n onbeplande swangerskap was. Volgens die beskuldigde het die vrou gesê die papierwerk sal later gereël word en sy het getekende dokumente, waaronder ’n “aannemingsaansoekvorm”, by haar gehad.

Lees ook: Zephany Nurse se biologiese ma huil gebroke in hof

Sy beweer sy het Sylvia nooit weer gesien of van haar gehoor nie. Die beskuldigde sê sy het ses jaar later ’n geboortesertifikaat in die pos gekry met die naam wat sy vir die baba gekies het daarop.

Die staat beweer die beskuldigde het vir die dokument aansoek gedoen. Die beskuldigde beweer egter sy was nie op daardie tydstip op Malmesbury nie. Raez Khan, vir die verdediging, sê sy kliënt was ses maande ná die aangetekende datum op die dorp om haar broer se doodsertifikaat te kry.

Gerhard het gesê dis nie ongewoon om ’n kind op ses te registreer nie. “Ouers het dikwels eers ’n geboortesertifikaat nodig wanneer die kind skoolgaande ouderdom bereik.”

Sertifikate word op dieselfde dag as die aansoek uitgereik, behalwe as die stelsel probleme gee. Die dokument word daarna na die aansoeker gepos, sê Gehard.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com

Student kritiek ná skote op TUT-kampus

Kyk: E-sigaret ontplof soos vuurwerk in man se broeksak

Verkeerspolisie ry doelbewus rondloperhond dood sodat ‘dit nie ly nie’

Eina! Rokers, drinkers trek swaar onder Jan Taks

Hardewareprobleme pootjie Telkom-gebruikers wat lugtyd wil herlaai

‘Gee my die kind’ – vrou getuig dramaties hoe Zephany Nurse se grootmaakma ook haar kind wou ‘steel’