zelda

“So hartseer as wat dit my maak dat ek nooit weer ’n vertrek sal binnestap en sy breë, aansteeklike glimlag sien nie, het ek vrede daarmee gemaak dat Madiba se nalatenskap nie van sy teenwoordigheid afhanklik is nie,” het sy in ’n verklaring gesê.

“Sy nalatenskap sal nie net voortleef in alles wat na hom genoem is nie, die boeke, die afbeeldings, die roplrente. Dit sal ook voortleef in hoe ons voel wanneer ons sy naam hoor, die respek en liefde, die eenheid wat hy in ons as ’n land geïnspireer het, maar in die besonder hoe ons met mekaar omgaan.”

Sy het gesê Mandela het mense geïnspireer om te vergewe, versoen, om te gee, om onselfsugtig en verdraagsaam te wees, en waardig te bly ongeag wat die omstandighede is nie.

“Ek kan van elkeen hiervan getuig, want dit is hoe hy my lewe die afgelope 19 jaar verander het,” het Zelda gesê.

“Ek is geseënd en geëerd dat ek die voorreg gehad het om hom te dien.”

Mandela het nie lojaliteit geëis nie, maar onwrikbare lojaliteit aangespoor by almal wat hy aangeraak het, het sy gesê.

“Madiba sal altyd in my lewe teenwoordig wees, want hy het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek sal elke glimlag koester, die aangename maar ook die swaar tye en veral my kaalvoetoomblikke,” het Zelda gesê.

“Dankie vir al die wonderlike geleenthede wat u my gebied het, maar dankie bowenal dat u in my geglo het . . . en my ’n beter mens, ’n beter Suid-Afrikaner, gemaak het.”

Mandela is Donderdagaand tuis in Houghton, Johannesburg, oorlede in die ouderdom van 95.