Koningin Elizabeth II se 32-jarige kleindogter het Vrydag haar en haar man, Mike Tindall, se eersteling in die wêreld verwelkom. Die kleinding moet nog ’n naam kry.

Die koningin is van die geboorte in kennis gestel en is glo “verheug” oor die nuus. Mike, ’n rugbyspeler, was teenwoordig by die geboorte.

Dis nog onbekend hoe laat Zara die lewe geskenk het, maar Buckinghampaleis het die nuus bevestig. ’n Woordvoerder het gesê: “Mev. Michael Tindall het vandag in die Gloucestershire koninklike hospitaal die lewe geskenk aan ’n babadogtertjie. Mnr. Tindall was teenwoordig met die geboorte. Die baba het 3,1 kg geweeg.

“Die koningin, die hertog van Edinburg, prinses Anne, kapt. Mark Phillips en Mike se ouers, mnr. Phillip en mev. Linda Tindall, is ingelig en is in die wolke. Die baba se naam sal weldra bevestig word.

“Dit is Mike en Zara se eersteling, die derde kleinkind vir prinses Anne en vierde agterkleinkind van die koningin en die hertog van Edinburg; sy is die 16de troonopvolger.”

Zara en Mike (35) is op 30 Julie 2011 getroud nadat hulle die vorige jaar hul verlowing aangekondig het.