Daar was sekerlik tye in 2011 toe Zara Phillips, dogter van prinses Anne van Brittanje, nie saam met haar man, die Engelse rugbyspeler Mike Tindall, gesien wou word nie, maar met die koms van 2012 het dinge anders gelyk.

By die onlangse Veerpyltjie Wêreldkampioenskappe in Londen het Zara (30) breed geglimlag toe Mike die middelpunt van aandag was, berig MailOnline.

Dié 33-jarige het sy reputasie gestand gedoen deur in ‘n kostuum by die Londense Alexandra-paleis op te daag waar die kampioenskappe gehou is.

Dit is al so te sê tradisie om in kostuums die geleentheid by te woon.

Hy het ‘n strepieshoed opgehad, ‘n oorgroot bril en ‘n vals baard – alles om ‘n bietjie humor uit te lok. Eers was hy feitlik onherkenbaar tussen die 2500 mense wat teenwoordig was.

Maar dit het nie lank geduur nie…

Die komiese akteur Ralf Little het ‘n plakkaat omhoog gehou wat mooi uitspel Tindall sit agter hom.

Zara en Mike is verlede jaar einde Julie getroud – die eerste ses maande van hul huwelik het by tye gesukkel om staande te bly nadat beeldmateriaal tydens die Rugby Wêreldbeker-toernooi gewys het hoe Mike met ‘n blonde vrou in Queenstown, Nieu-Seeland flankeer.

Dit wil blyk dat alles nou vergewe en vergete is.

Volg Huisgenoot op Twitter.

-Mail Online