Dit gons in Hollywood dat Zac Efron (26) en Lily Collins (24) weer saam is nadat hulle onlangs saam gewaar is.

Die tweetjies het verlede jaar drie maande lank uitgegaan en het nou die tonge laat klap dat hul romanse weer vlam gevat het nadat hulle Woensdag gesien is waar hulle in Disneyland in Los Angeles handjies vashou.

Verlede jaar het hul paadjies geskei omdat hulle nie ernstig was oor die verhouding nie en op hul loopbane wou konsentreer. “Dis waar dat hul werkroosters op die oomblik dol is, en dit maak dit nie maklik om ’n verhouding te hê nie,” het ’n bron toe gesê.

Zac – wat vroeër vanjaar rehabilitasie ondergaan het vir alkohol- en kokaïenmisbruik, was vroeër vandeesmaand alte danig met Brittany Snow (27), sy medester in Hairspray, en het erken hy het hom met vroue omring om hom van sy probleme te help vergeet.

Zac het verlede jaar gesê hy sukkel om op afsprake te gaan omdat hy dit “ongemaklik” vind en verkies om eerder iets spontaans te doen. “Afsprake soos aandete of so iets is moeilik. Ek vind ’n gedwonge situasie baie vreemd. Ek hou daarvan om iets avontuurlustigs te doen. Ek hou daarvan om uit te gaan en die een of ander lawwe ding te doen.”