Zac Efron saam met sy eksmeisie Vanessa Hudgens

Die ster van High School Musical – wat minder as ’n jaar gelede rehabilitasie vir beweerde kokaïen- en alkoholmisbruik ontvang het – het groot veranderinge gemaak om op die regte paadjie te bly.

Die 26-jarige akteur woon glo nie meer partytjies in Hollywood by nie en verkies om eerder draaiboeke te lees, gim toe te gaan en die vergaderings by te woon om sy verslawing te klop.

“Hy het amper almal uit sy lewe gesny wat deel van die partytjietoneel was,” het iemand in die binnekring aan die tydskrif People gesê. Nog ’n bron het gesê: “Hy is nou volkome daartoe verbind om nugter te wees.”

Hoewel die bronne sê Zac is steeds “in die versoeking”, het die hartebreker gelukkig gelyk by die SXSW-fees verlede naweek, waar hy gesê het hy voel “geseën” in sy loopbaan tot dusver. “Ek is geseën met die geleenthede wat ek gekry het. Dit kon nie beter gewees het nie. Ek is baie bly.”

Die ster van die fliek That Awkward Moment het ook gesê hy voel beter as ooit en is op “goeie plek” in sy lewe nadat hy sy probleme in rehabilitasie oorkom het. “Ek is baie gelukkig. Ek voel ek is op ’n goeie plek in my lewe en ek is bly ek kan hierdie oomblik met almal deel en hier wees om alles te ervaar.

“Dit was ’n interessante jaar. Ek het baie geleer. Die beste deel was dat ek kon besin oor daardie ervaring en om te besef hoeveel ek geleer het oor myself en die soort man wat ek wil wees.”