Zac Efron is rehabilitasiesentrum toe ‘om homself te vind’.

Zac (25), wat as tiener bekend geraak het in Disney se High School Musical, is vroeër vanjaar stilweg in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Hy was glo aan alkohol en kokaïen verslaaf. Vriende sê hy het besef hy het hulp nodig en die nodige stappe gedoen om hom van sy verslawing te genees.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Hy het besef hy het hulp nodig en dit gekry. Dit gaan nou goed met hom.”

Die akteur het glo vreemd opgetree op die stel van sy nuwe komedie, Neighbours, waarin hy die rol van ’n oproerige student vertolk. Vriende en familie was bekommerd oor sy gedrag.

Hy het glo sowat vyf maande gelede hulp gekry en dit lyk asof hy nou weer op koers is. Hy verskyn in ’n hele paar flieks wat in die komende jaar uitgereik word.

Zac het Maandag by die première van sy nuwe riller, Parkland, op die internasionale rolprentfees in Toronto aan verslaggewers gesê dit gaan goed met hom.