Zac Efron (26) is aangewys as die aantreklikste hartebreker van 2014. Die akteur het die eerste plek behaal in die Britse tydskrif heat se jaarlikse peiling. Verlede jaar se wenner, die Olimpiese swemmer Tom Daley (20), het na die tweede plek afgeskuif, terwyl die voormalige sokkerster David Beckham (39) sy derde plek behou het.

Lucie Cave, hoofredakteur van die tydskrif, sê webtuistegebruikers “het in hul duisende gestem en Zac aangewys as die sexyste man”. Sy sê sy eerste plek op hul lys 101 Hottest Hunks is te danke aan sy kaalbolyftonele in die fliek Bad Neighbours en die feit dat Rita Ora (23) by die MTV-rolprentprysuitdeling sy hemp afgeruk het.

Die McBusted-tromspeler, Harry Judd (28), en die akteur Leonardo DiCaprio (39) is onderskeidelik in die vierde en vyfde plek, terwyl die Fifty Shades of Grey-hartebreker Jamie Dornan (32) die nuweling met die hoogste posisie is – hy het die agtste plek behaal.

Bradley Cooper (39) is in die sesde plek, ’n plek voor Gary Barlow (43), en Ryan Gosling (33) en Henry Cavill (31) is onderskeidelik in die negende en tiende plek.

Prins Harry (29) van Brittanje het agt plekke afgeskuif, na die 32ste plek. En die Gravity-ster George Clooney (53), wat in April sy verlowing aan Amal Alamuddin (36) bekendgemaak het, het 37 plekke afgeskuif van verlede jaar na nommer 60.

Die top-10 op die tydskrif heat se lys van aantreklikste mans van 2014 is:

[post-slider]