Die 26-jarige ster van die fliek That Awkward Moment is verlede jaar twee keer vir beweerde kokaïenverslawing behandel, en sê hy het besef hy het ’n probleem toe hy nie deur Maandae en Dinsdae kon kom sonder “iets” om sosiale verkeer makliker te maak nie.

Zac vertel in die nuwe NBC-werklikheidsreeks Running Wild with Bear Grylls van sy probleme, en erken hy het al vantevore gesukkel om roem te hanteer. “Dit het baie vinnig gebeur, en dis skokkend, weet jy,” het hy gesê oor sukses op ’n jong ouderdom.

“Die werk was nooit die uitdagendste nie; dit was eerder die sosiale aspek daarvan. Jy bring baie tyd deur by die huis en gaan van jou trollie af, en kort voor lank het jy iets nodig om sosiaal te verkeer. Sodra ek dit begin doen het, het ek dit nodig gehad om enig iewers heen te gaan.

“Dit het ’n punt bereik dat ek minder omgegee het oor die werk en ál meer na die naweek uitgesien het. Ek kon skaars wag om uit te gaan en net te ontspan en pret te hê. Maar toe raak dit te moeilik om deur Maandae en Dinsdae te kom.”

Zac probeer nou meer ontspanne lewe sodat hy nugter kan bly. “Ek wil nooit weer iets gebruik om goed oor myself te voel nie. Ek wil gemaklik wees met wie ek is, en dit verg baie werk. Dit verg meditasie, om tot stilstand te kom en stadiger te leef.”