Zac Efron is glo vanjaar vir verslawing aan kokaiën in ’n rehabilitasiesentrum behandel.

Zac (25) het glo vyf maande gelede in ’n rehabilitasiesentrum behandeling vir sy dwelmverslawing gekry. Die ster van Parkland het vier jaar lank, tot Desember 2010, met die High School Musical-ster, Vanessa Hudgens, uitgegaan. Sy mees onlangse meisie was die aktrise Maika Monroe (19).

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com vertel die akteur het in April tydens die verfilming van Seth Rogen se fliek Neighbors die kluts kwytgeraak. Hy was ’n paar dae nie op die stel nie. “Dit was algemene kennis hy het probleme met kokaïen gehad.”

Zac se woordvoerder het gesê: “(Ek d)ink nie ons sal kommentaar lewer nie.”

Nog ’n bron het aan People.com gesê dit gaan goed met die akteur en hy is van sy verslawing genees. “Hy sien na homself om en ’n mens kan dit sien.”

Iemand het ook aan E! News gesê: “Hy is gesond, gelukkig en drink nie. Hy konsentreer nou op sy werk.”