Die ster van die fliek That Awkward Moment wat verlede jaar om hulp by ’n rehabilitasiesentrum aangeklop het, het ’n roerende boodskap op Facebook aan Kirby Koo geskryf nadat sy vir hom die “mooiste komplimente” gegee het wat hy al gekry het toe hy die sosiale netwerk se hoofkantoor in Mountain View, Kalifornië, besoek.

Die 26-jarige ster het twee foto’s gedeel waar hulle mekaar omhels en geskryf: “@Curbiekoo, ek het soveel wat ek nog wil sê. En ek sal – wanneer ek die woorde kry. Maar ek sal hier begin – toe jy opstaan, met soveel krag en opregtheid en vir my die mooiste kompliment gee, het dit soveel meer as dit vir my beteken. @Facebook en aanlyn media oor die algemeen wys net die halwe prentjie – ja, mense sien my, maar ek kry nooit die kans om hulle te sien nie.”

Zac, wie se kakebeen onlangs gebreek is nadat hy buite sy huis geval het, het ’n aanduiding gegee dat hy sukkel met ’n lewe in die kollig. Hy het verder geskryf: “Gister was die eerste keer in ’n lang tyd dat ek in jou oë kon kyk en onthou hoekom ek doen wat ek doen; en dit sal nooit ophou nie. Ek het dit nodig gehad, meer as wat jy ooit sal besef, en wou net dankie sê; hopelik sal ek dit binnekort van aangesig tot aangesit kan doen.”

Toe Kirby, ’n aanhanger van High School Musical, die boodskap sien, het sy geskryf: “Ek het nog altyd daarvan gedroom om jou te ontmoet, maar ek sou nooit kon droom dat jy met soveel opregte vriendelikheid en letterlik oop arms sou reageer nie. Die uitwerking wat jy en jou talent op my en soveel miljoene ander het, moet nooit onderskat word nie. Bo en behalwe jou werk as ’n akteur, dankie dat jy so ’n aangename, vrygewige mens is en ek voel nederig om jou as ’n vriend te mag beskou.”