Maar die twee se romanse het glo op ’n wankelrige noot begin omdat Zac haar “ ’n spul instruksies” gegee het oor hoe sy haar behoort te gedra.

“Zac is ’n diktator sedert hy en Sami ’n paartjie geword het,” het ’n bron aan die Amerikaanse tydskrif OK! gesê. “Hy mikrobestuur alles, van haar dieet en oefenroetine tot haar klere en skoonheidsroetine, en dit dryf haar teen die mure uit!”

Sy vriende is glo bekommerd dat hy Sami gaan afskrik as hy so voortgaan. Hy het vroeër vanjaar ’n kortstondige verhouding met Michelle Rodriguez van Fast & Furious-faam gehad en blykbaar het soortgelyke gedrag veroorsaak dat die twee uitmaak.

“Zac is gespanne en beherend,” vertel die bron. “Hy het Michelle weggedryf omdat sy net nie sy beheervraat-maniere kon hanteer nie.”

Nie Sami of Zac het al amptelik bevestig dat hulle ’n paartjie is nie. Hulle het verlede maand ’n bofbalwedstryd van die Dodgers in Los Angeles bygewoon en is ook vroeg in Oktober saam in Denemarke gewaar.

Zac het ’n string mislukte verhoudings met Hollywood-skoonhede agter die rug. Die ster van die fliek 17 Again was in ’n verhouding met Vanessa Hudgens, sy medester in High School Musical, maar hul verhouding is in 2010 beëindig. Hy het glo in Junie vanjaar met Michelle begin uitgaan en hulle is in Augustus uitmekaar.

Hy is voor sy romanse met Sami ook romanties verbind met Emily Ratajkowski, sy medester in We Are Your Friends, wat bekend is vir haar bostuklose verskyning in Robin Thicke se musiekvideo vir Blurred Lines.

© Cover Media