Die inhoud van hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Die polisie van Texas het twee 911-oproepe uitgereik wat Madison (17) en Taylor Sheats (22) gemaak het minute voor hul ma hulle doodgeskiet het.

“Vergewe my asseblief! Ek is jammer,” kan tussen die gille uitgemaak word tydens ’n oproep wat Christy Sheats (42) se jongste dogter, Madison, na die nooddiens gemaak het.

“Moet asseblief nie skiet nie, ek is jammer. Asseblief moenie die vuurwapen op ons rig nie.”

’n Man se stem, glo dié van Christy se man, Jason, sê: “Ek belowe jou, wat jy ook al wil hê, ek sal . . .”

Dan word die oproep afgesny.

Die skokkende klankgreep onthul die drama wat in Jason en Christy se huis in die vreedsame voorstad Katy in Texas afgespeel het toe Christy, ’n voorstander van vuurwapens, haar twee dogters vermoor het.

Jason (45) het daarin geslaag om te ontsnap.

Luidens berigte het Christy op Vrydag 24 Junie ’n “gesinsvergadering” gevra en later in hul woonkamer skote afgevuur.

Christy het albei haar dogters geskiet. Die vroue en hul pa het uit die voordeur ontsnap.

1

Een van die bure, Fazz Zainuddin, het aan Click2Houston gesê hy het die pa hoor sê: “Moet dit nie doen nie. Hulle is ons kinders.”

Madison het inmekaargesak, terwyl Jason by een van hul bure gaan skuil het.

Taylor het in die straat uitgehardloop, met haar ma agterna. Sy het ook ’n oproep na 911 gemaak waartydens sy skynbaar nie kon praat nie, volgens The Mirror.

In ’n ander noodoproep beskryf een van die bure hoe Christy Taylor in die rug skiet terwyl sy probeer weghardloop, berig MailOnline.

Lees ook: Bloedjong tienermeisie en haar broer in hof vir Krugersdorp-moorde

Die koeëls in Christy se .38-kaliber-handwapen het vermoedelik op geraak. Dit was ’n wettige wapen wat Christy by haar oupagrootjie geërf het.

“Sy kom weer terug en sy het skynbaar nou koeëls,” kan een van die bure gehoor word. “Sy het haar weer van agter af geskiet. Sy probeer hardloop. Sy het haar in die rug geskiet.”

2

Toe die polisie opdaag, het Christy naby haar dogters se lewelose liggame gestaan met die vuurwapen steeds in haar hand.

“Die polisie was agter die bome en agter die motors en hulle het vir die ma gesê sy moet die vuurwapen neersit, maar sy het nie,” sê Fazz.

’n Polisieman van Fulshear het haar doodgeskiet toe sy weier om die wapen neer te sit.

Taylor, wat Maandag in ’n klein plegtigheid met haar verloofde, Juan Sebastian Lugo, sou trou, is per lugambulans na ’n plaaslike hospitaal gebring, waar sy later dood is.

Madison is buite die huis dood verklaar. Jason is hospitaal toe geneem, maar is nie beseer nie.

Luidens berigte het Christy die vergadering gereël om haar dogter, wat op trou gestaan het, te “dissiplineer”.

62423_635040223172785_1707335321_n

In ’n perskonferensie ná die grusame voorval, het sheriff Troy Nehls van die distrik Fort Bend gesê Christy wou Jason glo “blameer”.

“Hy het gesê sy het bereik wat sy wou doen en dit is om hom te laat ly,” het Troy gesê.

Madison se beste vriend, wat anoniem wou bly, het aan MailOnline gesê die Seven Lakes-hoërskoolleerder het ontsteld geklink toe hulle daardie oggend oor die foon praat.

“Ek kon net in haar stem agterkom sy was ontsteld oor iets. Ek het haar gevra wat aangaan en sy wou my nie sê nie. Sy het net gesê sy stry met haar ma.”

Die vriend het bygevoeg: “Ek was amper elke week daar en ons het goed saam gedoen. Ek het nooit enigiets oor die gesin agtergekom nie. Ek bedoel, hulle het gestry, maar oor niks baie groot nie.

“Haar ma was ’n goeie mens. Ek weet net nie wat daardie dag gebeur het nie.”

Maar volgens die sheriff van Fort Bend se kantoor het polisielede sedert Januarie 2012 op 14 noodoproepe van die Sheats se huis af gereageer. Party het glo daarmee verband gehou dat Christy haar eie lewe wou neem.

Bronne: Click2Houston, The Mirror, Chron.com, MailOnline