Dansende katte, babas op rollemme, ’n leeu wat ’n Landie se wiel opkou, Jack Parow voor die Burger Fair in Bellville . . . dink net daaraan en die kans is goed dat jy dit op YouTube sal kry.

Teken in op Huisgenoot

G’n wonder miljoene mense wêreldwyd is gek oor dié webtuiste waar mense hul video’s met mekaar deel nie. Of jy nou iets het om te wys of iets wil sien – YouTube is die regte adres.

Dié webtuiste is maar vyf jaar oud, en in dié kort tydjie het dit ’n soort visuele biblioteek van gebeure regoor die wêreld geword. Dit het iets van alles – van lighartige en absurde oomblikke tot harde nuus, van mense wat oulike amateurvideo’s met familie en vriende deel tot professionele video’s van mense wat droom van ’n loopbaan in musiek of toneelspel.

YouTube was nie die eerste in sy soort nie, maar die maklike tegnologie was dadelik ’n wenresep.

Die stigters, Chad Hurley (34), Steve Chen (32) en Jawed Karim (31), het die webtuiste begin nadat hulle in 2004 gesukkel het om videogrepe van Janet Jackson se ontblote-bors-oomblik by die American Superbowl te sien te kry.

Die drie IT-kenners het destyds saam gewerk en het begin planne maak om ’n video-deelwebtuiste te begin. En kort nadat hulle dit van stapel gestuur het, het die internetreuse Yahoo, Google en Microsoft groot geld aangebied om die webtuiste te koop.

Google het die res geklop deur die nuwe maatskappy vir ’n verstommende $1,65 biljoen (R12,45 biljoen) te koop.

YouTube-syfers:

- 14 Februarie 2005 – Die dag toe die naam youtube.com geregistreer is.

- 24 uur se nuwe materiaal word elke minuut gelaai.

- 5,2 biljoen – Die aantal trefslae per dag.

- 22,8 persent van die verkeer na die webtuiste kom van Amerika.

- 1 700 Hoeveel jaar jy sou kyk as jy elke videogreep wou sien.

- 10 minute – Die maksimum lengte van video’s wat deur gewone verbruikers gelaai word.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 20 Mei 2010.