“Hulle kon nooit tot siens sê nie. Ek het die geleentheid gehad om agt maande saam met Pierre te wees.

“Ek hoop die begrafnis sal afsluiting bring vir die kinders.

“Die kinders het briewe geskryf. By die huis kook ons Pierre se gunstelingkos. Ons dra sy ou Grey-hemde, ons sê die goed wat hy gesê het en ons hou sy nalatenskap lewend.”

Yolande, Lize-Marie en Pieter-Ben het vanoggend op ’n mediakonferensie gepraat ’n paar uur nadat hulle hul man en pa se oorskot ontvang het.

Hy is die naweek dood nadat ’n ontsettingsplan deur die Amerikaanse spesiale magte skeefgeloop het. Luke Somers, wat saam met Pierre in Jemen aangehou is, is ook om die lewe gebring.

Pierre sou Saterdag vrygelaat word.

Op die dag van sy dood was Pierre presies vyf jaar in Jemen, waar hy ’n onderwyser was.

Yolande, wat sedert Mei verlede jaar saam met Pierre deur Al-Kaïda-terroriste aangehou is, is in Januarie vrygelaat.

“Die laaste herinnering wat ek van Pierre het, is van toe ons mekaar vasgehou het. Hy kon nie meer hoor in daardie stadium nie. “Hy het vir my gesê: ‘Ek is lief vir jou en sê vir die kinders: Ek is lief vir hulle,’” het Yolande vertel. Yolande het gesê vanoggend, toe sy en die kinders Pierre se oorskot op die Waterkloof-lugmagbasis ontvang, was baie emosioneel.

'Ons het gedink ons gaan in sy arms wees wanneer ons hom weer sien en sy sagte stem hoor.'

“Ons het dit anders ingedink. Ons het gedink ons gaan in sy arms wees wanneer ons hom weer sien en sy sagte stem hoor. Maar ons is baie verlig dat Pierre teruggekom het, dat ons sy oorskot kan hê. Nou kan ons afsluiting kry.

“Is ons spyt ons was Jemen toe? Ons het ’n verlies gely, maar ons kan nooit spyt wees nie. Ons het geleef saam met mense wat niks het nie. Dis die Here se wil.”

Yolande het gesê sy en die kinders kies om dié te vergewe wat Pierre doodgemaak het, want onvoorwaardelike vergifnis is iets wat hulle by Pierre geleer het; dit, en om altyd potensiaal in ander mense raak te sien.

Yolande sal later vandag na haar man se oorskot gaan kyk en het gevra om dan alleen gelaat te word.

- Hilda van Dyk