Dis altyd teleurstellend om uitgeskakel te word. Tog het hulle die beste tyd van hul lewens gehad en elke minuut geniet, sê die braaimeester Shaun Cavanagh (34), ’n programmeerder van Pretoria. Sy span, Ying Yang, was gisteraand die sewende wat uitgeskakel is in The Ultimate Braai Master (UBM), SABC3 se gewilde werklikheidsprogram oor buitelugkosmaak.

Dit was Ying Yang se tweede poging om die UBM-titel te wen. Hulle het verlede jaar ook ingeskryf. Shaun en sy braaimaat, Samantha van Niekerk (26), ’n ontvangsdame, “se wiele het afgeval” in die tweede uitskakeling.

“Maar ’n bietjie harde werk en uithouvermoë het vrugte afgewerp – moet nooit moed opgee nie,” verduidelik Shaun hoekom hulle weer ingeskryf het. “Dis die beste program nog, en ons sal altyd daarvan hou om deel te wees van iets wat so groots is. Om padlangs te reis saam met jou beste vriend en die persoon vir wie jy die liefste is . . . komaan!”

Samantha is inderdaad die persoon vir wie hy die liefste is – die paartjie trou hierdie Saterdag in Pretoria. In tipiese Ying Yang-styl het hulle tradisie laat vaar ter wille van ’n informele huweliksfees met ’n piekniektema.

Shaun het verlede jaar ’n boot gekoop, en moes dit amper verkoop om vir die troue te betaal. “Maar gelukkig het ons R25 000 met The Ultimate Braai Master gewen, en my boot is nog veilig in die motorhuis.”

In gisteraand se episode het drie spanne die Panyaza Shisa Nyama-kroeg in Soweto, Johannesburg, besoek. Hulle moes daar twee uur lank aaneen braai en 100 genooide gaste kos gee. Maar Ying Yang het nie die uitskakel-uitdaging oorleef nie . . .

Hulle het dom foute gemaak, wat hulle duur gekos het, sê Shaun. “Om onder druk kos te maak en beperkte tyd te hê, doen snaakse goed aan die brein!”

V&A aan Ying Yang:

V: Wat was voor die kompetisie jul grootste vrees?

Ying Yang: Shaun se enigste fobie was om die Lavaboom (’n bostoilet) te gebruik, terwyl Sam doodbang is vir goggas . . . Nee, eerlik: Ons grootste vrees was dat ons onder die druk sou swig en iets tussen ons twee vernietig. Maar ons is bly om te sê dit het ons net sterker gemaak en mekaar ’n bietjie meer laat liefhê.

V: Wat was jul beste oomblik?

Ying Yang: Om die aanbieder, Justin Bonello, met potspel te wen. Jammer, ek moes dit inkry. Om mense te ontmoet en vriendskappe te smee met die ander deelnemers en die span sal altyd ’n groot deel van ons lewens wees. Die huisboot op Jozini, snorkel in Sodwana, kampeer op Wakkerstroom – eisj, elke enkele deeltjie daarvan.

V: Wat was die moeilikste uitdaging?

Ying Yang: Die uitdaging by Hluhluwe was ’n groot openbaring en het ons tot in ons murg geskud. Shaun het nou nog ’n nagmerrie of twee daaroor, en skrik wakker terwyl hy oor bone en wors praat.

V: Hoe het die program jul lewens verander?

Ying Yang: UBM het ons help verstaan dat wat ons het spesiaal is, en dat ons kan bereik wat ons wil as ons in onsself glo en ons bes doen. Ons het inspirerende mense ontmoet en sal dit altyd saam met ons dra.

V: Watter span was jul taaiste teenstanders?

Ying Yang: Sjoe, so baie talent, maar ons sal sê The Boerie Brothers. Ons het goeie vriende met die wonderlike ouens geword en dit was moeilik om in die uitskakel-uitdaging teen hulle mee te ding.

V: Watter soort vleis braai julle die graagste?

Ying Yang: ’n Groot stuk rypgemaakte lendeskyf: Dis maklik om te braai, proe soos ’n miljoen dollar en kos nie ’n klein fortuin nie. Dit gaan besonder goed saam met ’n stukkie knoffelbotter en ’n aartappel met die skil aan . . . ons monde water selfs wanneer ons net daaraan dink. En wanneer dit braaityd is, maak vuur, maak ’n bier oop en geniet dit – lekker!