Hugh Jackman is die tipe akteur waaroor die meeste mense gek is. In die gewilde X-men-reeks vertolk hy die rol van Wolverine, die onoorwonne superheld. Hy is ook menigmale die romantiese hartebreker, byvoorbeeld in Kate and Leopold.

Maar tydens 'n voorval Saterdag op Bondi-strand, Australië het die aantreklike Hugh se koelkop daartoe bygedra dat hy sy seun, Oscar (15) en sy dogtertjie, Ava (10), uit die sleurstroom kon help red.

Hugh was in die water besig om met werklikheidster Dan Conn en My Kitchen Rules se Lynzey Murphy te gesels toe die voorval plaasgevind het.

Videomateriaal wys hoe Hugh iemand aan sy arm gryp terwyl dié man aan 'n meisietjie vashou. Oomblikke later het hy ook vir Oscar te hulp gesnel.

Peter Adam het aan 9news.com.au gesê dat hy die man was wat deur Hugh gegryp is. Hy het eintlik vir klein Ava in daardie stadium gehelp.

"Hy het my nie gered nie, ek het hom gehelp om sy dogtertjie tot op 'n sandbank te bring. Toe het hy my hand gegryp en my regop getrek," sê Peter. "Daarna het hy (Hugh) sy seun gaan haal." Lynzey Murphy het aan news.com.au gesê hulle was sowat 20 minute lank in die water toe toestande skielik verander het. "Die water het net skielik gestyg. Ek het self gesukkel, en ek is 'n ervare swemmer."

“Hy was baie koelkop. As jy voor kinders kop verloor, vererger dit net sake. Hy het ook vir my en Dan bedank. Hy was dierbaar," het Lynzey oor die voorval te sê gehad.

'n Voormalige lewensredder het ook beaam dat Hugh Jackman kalm gebly het deur die nagmerrie-ervaring.

Bronne: 9news.com.au, news.com.au