Simon Cowell is die doring tussen die rose wanneer X FACTOR USA vir sy derde seisoen terugkeer. Die Grammy-bekroonde sangeres Kelly Rowland en popster Paulina Rubio is die nuwe beoordelaars.

Kelly het die kollig betree saam met Destiny’s Child, een van die wêreld se suksesvolste groepe, saam met Beyoncé Knowles en Michelle Williams. Hulle het 14 Grammy-benoemings en drie Grammy-pryse agter hul naam.

As ’n solo-kunstenaar het Kelly drie albums uitgereik. Haar eersdaagse album, Talk a Good Game, word middel Junie uitgereik en haar liedjie, Dirty Laundry, wat onlangs uitgereik is, het ’n beroering veroorsaak.

Paulina Rubio het al meer as 20 miljoen albums verkoop en word as een van die invloedrykste hedendaagse Latynse kunstenaars beskou. Sy het 10 albums agter haar naam en het al groot treffers in Engels en Spaans gehad.

“Dit het meer as ’n dekade geduur, maar ek is in die wolke om ueindelik saam met drie meisies (of dis wat ek dink!) op die paneel te wees. Paulina en Kelly het uitstekende smaak en baie ervaring in die musiekbedryf, en saam met Demi (Lovato), gaan dit ’n lekker paneel wees.”

En die nuwe beoordelaars sien ewe veel daarna uit. “Ek is baie opgewonde om weer saam met Simon Cowell en die X Factor-familie te werk. Dis lekker om die reis hier by die huis in Amerika aan te pak,” het Kelly laat hoor. Sy was voorheen deel van X Factor UK.

“Ek is mal oor X Factor! Ek kan nie wag om die volgende groot musiekster in Amerika op te spoor nie,” het Paulina gesê. “Ek is baie opgewonde om as ’n beoordelaar deel van die program te wees. Simon, wees versigtig waarvoor jy wens, kom ons kyk of jy reg is om my te hanteer!”

X Factor het al vir talle wêreldwye supersterre gesorg, onder wie Leona Lewis, One Direction, Olly Murs en Cher Lloyd. Die program word nou in 191 lande uitgesaai en 41 lande het hul eie plaaslike weergawe daarvan.

–  Faiza Mallick

Bron: http://www.thexfactorusa.com/