Ek dink ek en my kinders het ’n goeie verhouding. Hulle gesels met my en ons lag saam en ek voel ons is gewoonlik op goeie voet. Tog het ons duidelike grense. Ek is nie hul vriendin nie en ek probeer dit ook nie wees nie. Daar is streng tye om huis toe te kom, daar is reëls oor tegnologie en daar is tye wanneer ek nie baie gewild in ons huis is nie.

Ek het vandag met iemand gesels saam met wie ek aan ’n nuwe projek werk. Jonty het my vertel sy kleuter het hom in hul bed ingewurm. Pappa is nou heeltemal uitgeskop; die kleuter slaap in die bed saam met Mamma en Pappa slaap op die rusbank. Hy wou natuurlik raad hieroor hê.

My reaksie was: Jy moet die ouer wees. Neem beheer en stel grense en beperkinge. Daar is drie stappe:

  • Sê vir jou kleuter jy verstaan wat hy wil hê (dat hy in Mamma se bed wil slaap).
  •  Sê vir jou kleuter wat die grens is – hy mag nie in die bed slaap nie.
  • Gee hom ’n keuse. Die keuse behoort te wees tussen iets wat vir hom taamlik aanvaarbaar is en iets waarvan hy nie sal hou nie. Byvoorbeeld: Jy kan op die vloer op ’n matras langs my bed slaap, of jy kan in jou eie bed slaap.

Deur ’n grens te stel met keuses, voel die kleuter veilig en bemagtig. ’n Mens moet sterk wees as jy dit wil deurvoer. Ek het vir Jonty gesê: As die kleuter ’n bohaai opskop of nie een van die keuses kies nie, neem hom na sy kamer en dwing een van die keuses af – die ongewildste een. As ’n ouer sal jy dit net een of twee keer hoef te doen voor die kleuter besef hy moet die reëls nakom.

Hoewel dit dalk na uitgediende en outoritêre raad lyk, is dit nie – dis so toepaslik vandag in die 21ste eeu soos in die verlede. Kinders, veral kleuters, funksioneer op hul beste wanneer die grense duidelik en ferm en ouderdomstoepaslik is.

Die algehele boodskap is dat, ongeag jou kind se ouderdom, jy nie sy vriend is nie. Jy is die persoon wat sy lewe veilig en voorspelbaar maak. Ons moet dus soms ons man staan en die baas wees, al is dit moeilik.

- Meg

Meg is ’n arbeidsterapeut met ’n spesiale belangstelling in die hantering van moeilike babas en babas met slaapprobleme. Sy het die Baby Sense-handelsnaam in 2005 begin en is die eienaar van die maatskappy Baby Sense, waarvoor sy innoverende babaprodukte ontwikkel.

Meg is saam met suster Ann Richardson die medeskrywer van die blitsverkopers Baby Sense (uitgereik in 2002, met ’n nuwe uitgawe in 2010) en Sleep Sense (uitgereik in 2007). Sy het Feeding Sense (uitgereik in 2010) saam met die dieetkundige Kath Megaw en dr. Simon Strachan geskryf. 

Haar vierde boek, Your Sensory Baby, het in Mei 2011 die lig gesien.

Meg het ook ’n reeks vernuwende Baby Sense-produkte ontwikkel wat gegrond is op die Sensible Sensory Parenting-beginsels wat in haar boeke beskryf word.