VIR ’n man wat deur 119 briewe van vroulike bewonderaars moet sif om te kies wie hy in die Boer Soek ’n Vrou-reeks wil ontmoet, is hy vreeslik nederig.

Dis wat jou die eerste opval wanneer jy Vlok Hanekom (33) op die wingerdplaas Linton Park buite Wellington ontmoet. Dié gebore Noord-Kapenaar praat sag, glimlag maklik en sê hy is op sy gelukkigste wanneer die mense rondom hom gelukkig is.

Hy is al die afgelope vier jaar die plaasbestuurder hier tussen die groen wingerde en beeldskone berge. En sy huis het ’n groot stoep waar daar nog lekker gekuier gaan word wanneer hy eers die regte vrou gevind het.

Vlok moet nou 10 meisies uit die meer as 100 briefskrywers kies, en dan gaan hy hulle voor die televisiekameras deurkyk om te sien of een van hulle mev. Hanekom kan word.

Tog bely hy vandag waar ons hier tussen die wingerde by hom kuier: Hy wonder steeds af en toe of sy eksmeisie, Charlene Engels van Keimoes, nie dalk wel sy trouvrou was nie . . .

Hulle het mekaar sewe jaar gelede ontmoet op sy pa se plaas,  Die Mas buite  Kakamas, en was drie jaar saam toe Charlene, ’n handelsmerkbestuurder, in Londen werk gekry het.

Vlok is saam oorsee en het ‘n tyd lank as gehalte-inspekteur van invoervrugte gewerk. “Ek het later  teruggekom om solank permanente werk te soek, totdat sy weer by my sou aansluit,” vertel hy.

Toe kry Charlene ’n goeie aanbod in Johannesburg, en omdat hy lief was vir haar, sê Vlok, het hy haar aangemoedig om dit te neem.  Maar die langafstand-vryery het nie gewerk nie, en die twee het uiteindelik besluit  dis beter om elk sy eie paadjie te loop.

Maar hy wil darem ook nie vir altyd ’n alleenloper bly nie, sê die man met die skaam glimlag.  ‘‘Al my broers en susters is getroud en het al  kinders. En my ma-hulle raak nie jonger nie.’’ Ja, hy is familievas, en as hy die kans kry, gaan kuier hy op Kakamas waar sy pa Vlok en m, Welna, nog boer.

Lees meer oor Vlok in die Huisgenoot van 30 September 2010