Soniya Koekemoer (34), wat verlede jaar haar negejarige dogter, Michelle, vermoor het, het oor die naweek haar eie lewe probeer neem. Haar stiefpa, Dawie Viljoen, het die nuus aan Huisgenoot bevestig.

“Ons weet nie regtig wat gaan aan nie,” sê die bekommerde Dawie.

“Ek hou aan met bel, maar niemand by die hospitaal kan vir my sê hoe dit met haar gaan nie.”

Koekemoer word in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg behandel nadat sy haar keel en polse glo met ’n skalpel oopgesny het.

Sy is verlede jaar 18 jaar tronkstraf opgelê nadat sy haar kind in hul woonstel in Vanderbijlpark met ’n tou doodgewurg het. Sy dien haar vonnis by Johannesburg Sentraal uit.

Verlede jaar het dit in die hof uitgekom dat Koekemoer sedert haar kinderdae met depressie wroeg en al 27 keer probeer het om haar lewe te neem.

Luidens gerugte het Koekemoer die skerp voorwerp gesteel terwyl sy Sondag by die hospitaal vir asma behandel is.

Die departement vir korrektiewe dienste kon nie onmiddelik vir kommentaar bereik word nie.