Soniya (34) het Donderdag vlugtig die streekhof in Vanderbijlpark verskyn in verband met die moord op haar dogter, Michelle.

Sy het met deurmekaar hare opgedaag en ’n blou trui gedra. Sy het net vlugtig gekyk in die rigting van die hofbanke, waar haar ma, Elize Viljoen, en haar stiefpa, Dawie, by wie sy op Sasolburg gewoon het, gesit het.

Haar prokureur het uitstel gevra omdat sy glo nie emosioneel stabiel genoeg is om te pleit nie. Regter Buks Viljoen het die versoek toegestaan en die saak kom weer Donderdag 11 Augustus voor.

Soniya word aangekla vir die moord op Michelle. Op Donderdag 9 Junie het sy die polisie gebel en beweer ’n inbreker het hul woonstel binnegekom en Michelle met ’n tou gewurg.

Sy het beweer sy het ook met ’n tou om haar nek wakker geword. Sy is egter kort daarna in hegtenis geneem nadat polisie glo dagga in haar woonstel gevind het. Soniya is verlede week Vrydag gearresteer nadat sy verbind is met die moord van haar dogtertjie.