Soniya Koekemoer het Donderdag in die streekhof in Vanderbijlpark skuldig gepleit en erken dit was sy wat haar kind met ’n tou in hul woonstel verwurg het.

Soniya se ma, Elize, en haar stiefpa, Dawie Viljoen, is sedert sy op 25 Junie vir die eerste keer in die hof verskyn het, elke keer daar.

“Ons kop is deurmekaar,” het Dawie aan Huisgenoot gesê terwyl hulle op pad terug van die hof was.

“So baie gaan nou deur ons kop. Ons weet nie wat om te dink of te glo nie,” sê hy.

Soniya het eers in ’n verklaring gesê sy het Michelle op 9 Junie dood in haar bed aangetref. Sy het beweer inbrekers het haar met ’n tou verwurg. Sy het ook beweer sy het wakker geword met ’n tou om haar nek.

Sy het later die polisie gebel en haar oorgegee toe sy by Dawie en Elize op Sasolburg gaan woon het.

Donderdag was die eerste keer sedert die gebeure dat Elize en Dawie vir Soniya ’n drukkie kon gee voor sy weer na die aanhoudingselle geneem is. Soniya het begin huil toe Elize haar groet.

“Dit was baie erg vir ons almal. Sy bly ons kind en ek het Elize heeltyd probeer troos,” sê Dawie.

Hy sê hy vermoed die regter wil haar tronkstraf van 25 jaar oplê, maar haar prokureur wil probeer om dit na 15 jaar te verminder.

Die vonnisoplegging vind op 21 September in die streekhof in Vanderbijlpark plaas.