hond-was

’n Man genaamd Jacky Lo het ’n foto op Facebook geplaas waarin ’n klein, wit hond uit die masjien probeer klim, terwyl ’n ander foto blykbaar wys hoe die dier sukkel om sy kop bo die water te hou terwyl die wassiklus aan is.

’n Polisiewoordvoerder het aan AFP gesê ’n saak van vermoedelike dieremishandeling word ondersoek.

“ ’n Foto is op die internet geplaas oor ’n dier wat vermoedelik gemartel word. Dit is ’n dieremishandelingsaak,” het die woordvoerder gesê.

Volgens Jacky het hy die foto’s geplaas om te wys hoe ’n mens “ ’n hond lekker vinnig kan bad”.

’n Gebruiker het gevra of hy die hond doodgemaak het, en hy het in die kommentaar onder die foto geantwoord: “Ja, (dis dood). Wil jy sien?”

’n Aanlyn petisie, wat by die owerheid aandring om op te tree nadat die foto’s verlede maand geplaas is, het al byna 20 000 handtekeninge.

“As jy werklik ’n diereliefhebber is, sal jy nie so wreed wees om so ’n oulike hondjie dood te maak nie. Kom nou; jy is ’n man, nie ’n monster nie,” het Belinda Heng, ’n ondertekenaar van die petisie, geskryf.

“Stop! Honde het ook ’n lewe!” het ’n gebruiker genaamd Vivien Tsui onder die aanlyn versoek geskryf.

Al woon hulle in ’n digbevolkte stad met klein woonstelle, is baie inwoners van Hong Kong passievol oor hul troetelhonde.

Verlede maand is daar betogings by een van die stad se moltreinstasies gehou nadat spoorwerkers nie gekeer het dat ’n hond deur ’n trein omgery word nie.

Onder Hong Kong se wet word oortredings van dieremishandeling met tot drie jaar tronkstraf en ’n boete van R270 900 gestraf.

Volgens die polisie is daar nog niemand in hegtenis geneem nie.

Rebecca Ngan, ’n woordvoerder vir ’n plaaslike dierebeskermingsgroep, die Society for the Prevention of Cruelty to Animals, het aan AFP gesê: “Dit is werklik afgryslik. Niemand behoort dit te doen nie. Die polisie moet hom in hegtenis neem.”