Daar word berig dat ’n Griekse vlootvaartuig wrakstukke van die vermiste EgyptAir vliegtuig, wat Donderdagoggend neergestort het, in die Middellandse See opgemerk het.

Verskeie bronne rapporteer dat groot wrakstukke en wit en rooi stukke plastiek sowat 370 km suid van die eiland Krete gesien is. Dit is glo na aan die area vanwaar die vlugopnemer se sein deur ondersoekspanne opgetel word. Die Griekse TV-kanaal, TV ERT, berig ook dat twee groot "oranje-kleurige" objekte in dieselfde area opgemerk is. EgyptAir vlug MS804 het glo 22,000 voet geval en skerp gedraai voordat dit van radarskerms verdwyn het. Volgens die Egiptiese lugvaartowerheid kan terrorisme as moontlike oorsaak nie in hierdie stadium uitgesluit word nie. Dit is nog onduidelik wat die oorsaak van die neerstorting was.

Die vlug was onderwerg vanaf Parys na Kaïro toe dit oor die Middellandse See verdwyn het. In ’n verklaring het die lugmagowerheid gesê lugverkeerbeamptes het "omstreeks 05h00" die laaste keer met die loods gepraat en dat hy in ’n "ligte luim" was.
Die ondersoek is ’n gesamentlike poging deur Griekse, Egiptiese en Franse owerhede. Daar was 56 passasiers aan boord en tien bemanningslede. Berigte dat mense op die grond gisteraand "’n bol vuur" in die lug aanskou het, kon nog deur geen amptelike owerheid bevestig word nie.

Bronne: BBC; ENCA