Die wrakstukke van EgyptAir se vlug MS804, wat in die vroegoggendure Donderdag van die radar verdwyn het en in die Middellandse see gestort het, is gevind.

Volgens EgyptAir se amptelike Twitter-kanaal het die Egiptiese Ministerie van Burgerlike Lugvaart het in ’n amptelike brief van die Egiptiese Ministerie van Buitelandse Sake gekry wat sê die vermiste vlug MS208 se wrakstukke is gevind.

Lees ook: Straler met 66 passasiers aan boord ‘stort neer’ in Middellandse See

Die lugredery het sy innige meegevoel met die passasiers aan boord van die rampvlug se naasbestaandes in ’n mediaverklaring oorgedra.

“Familielede van die passasiers en bemanninglede is ingelig. Ons innige simpatie aan almal,” het die redery Donderdagaand in die verklaring oorgedra.

Die Egiptiese ondersoekspan soek in samewerking met sy Griekse eweknie na die oorblysels van die vermiste vliegtuig.

Volgens die Egiptiese lugvaartowerheid kan terrorisme as moontlike oorsaak nie in hierdie stadium uitgesluit word nie. Dit is nog onduidelik wat die oorsaak van die neerstorting was.