.

Dit hou verband met sy betrokkenheid by die ontwikkeling van chemiese en biologiese wapens in die apartheidsjare.

Volgens Die Burger het prof. Jannie Hugo, voorsitter van die tugpaneel, in sy uitspraak Basson se regspan se argumente een vir een as verskonings vir Basson se gedrag verwerp.

Basson het vroeër aangevoer dat hy tydens sy betrokkenheid as hoof van Projek Coast en Delta G - die weermag se destydse chemiese en biologiese wapenprogramme - eerstens 'n soldaat en nie 'n dokter was nie; dat hy bevele uitgevoer het; en dat mediese etiese regulasies tydens oorlogstyd anders is as tydens vredestyd.

Hugo het egter gesê ondanks sy rol as soldaat was Basson steeds 'n mediese dokter; en dat etiese regulasies baie duidelik die verswakking van ander persone sonder hul toestemming verbied, ook in tye van konflik.

Basson was onder meer betrokke by die vervaardiging van traangasse wat ontwikkel is om mense tydelik buite aksie te stel en dwelmmiddels vir militêre ontvoerings.

Die verhoor is tot Februarie uitgestel vir argumente oor toepaslike dissiplinêre stappe, wat kan insluit dat Basson nie meer sal mag praktiseer nie.

Basson self was nie by die uitspraak nie omdat hy met 'n noodoperasie op 'n pasiënt in Kaapstad besig is.

Bron: Die Burger