Jemima (39) sê prins Charles van Brittanje se eksvrou en die ma van prinse William en Harry het haar en twee ander vriende vertel sy is “dolverlief” op Hasnat en wil kinders by hom hê.

Diana, wat in 1997 in ’n motorongeluk dood is, het ook glo beplan om te verhuis na Hasnat se geboorteland, waar sy minstens twee keer op liefdadigheidsbesoeke was. Sy het elke keer sy familie in die geheim ontmoet om die moontlikheid van ’n huwelik te bespreek.

Jemima het aan die tydskrif Vanity Fair gesê: “Diana was dolverlief op Hasnat Khan en wou met hom trou, selfs al sou dit beteken sy moet in Pakistan woon. Dis een van die redes waarom ons vriendinne geword het. Sy het tydens albei besoeke aan Pakistan sy familie in die geheim ontmoet om die moontlikheid van ’n huwelik met Hasnat te bespreek. Sy wou by my weet hoe moeilik dit vir my was om by die lewe in Pakistan aan te pas.”

Jemima was met die voormalige Pakistanse krieketspeler Imran Khan getroud.

In reaksie op Jemima se bewerings het die voormalige hoof van die Buckingham-paleis, Darren McGrady, aan Us Weekly gesê: “Dis alles waar. Ek was daar toe sy dit oorweeg het.”

Hasnat was glo bekommerd oor haar planne en kon net ’n lewe saam oorweeg as sy Pakistan toe trek. Hy het geglo hulle sou daar die aandag van die media kan ontwyk.

In ’n onderhoud met die polisie ná haar dood het hy gesê: “Ek het haar gesê ek kan net vir ons ’n soort van normale lewe saam sien as ons in Pakistan woon, aangesien die pers jou nie daar lastig val nie.”

Die twee het later uitgemaak en Diana het met die biljoenêr Dodi al-Fayed begin uitgaan. Hy is kort daarna saam met haar in die ongeluk in Parys dood. Volgens haar vertroueling Rosa Monckton was die doelwit van haar verhouding met Dodi “net om Hasnat jaloers te maak”.