Hy’t onlangs gesê hy “voel gereed, opgewonde en baie gelukkig” om pa te word en het sy swanger vriendin, die New Yorkse sosiale vlinder Lauren Silvermann, ’n “baie spesiale meisie” genoem. Kan mnr. Goor, ook bekend as Simon Cowell, besig wees om te verander in mnr. Gaaf?

Die Brit met die skerp tong skree nou al jare aan die kant van enkellopende mans oor die wêreld heen – hy gaan uit met die een beeldskone langbeen ná die ander, hou vakansie op enorme seiljagte in die suide van Frankryk en lewe oor die algemeen die stralerjakker-lewe van ’n pierewaaier.

Geen wonder ons het gedink hy sal die hasepad kies as hy gekonfronteer word met die taak van kind grootmaak nie – en toe verras die 53-jarige musiekmagnaat ons almal deur vaderskap met ope arms te verwelkom.

“Dinge in my lewe is aan die verander – ten goede,” het hy gesê. “Vaderskap is iets waaraan ek nog nie voorheen gedink het nie, maar nou voel ek goed daaroor.”

Hy staan selfs by sy meisie en het vir Lauren – wat onlangs geskei is – ’n spoggerige plek in New York gekoop asook ’n ewigheidsarmband met vyf karaat se diamante in, wat hom sowat R160 000 uit die sak gejaag het.

Selfs sy vriende sukkel om die nuus te verteer. Die Britse TV-vervaardiger Nigel Lythgo, wat saam met Simon aan American Idol gewerk het, sê jy kon hom met ’n veertjie omtik toe hy van die storie hoor en het bely: “Ek het gedink hy is ’n geswore oujongkêrel.”

Dink jy Simon is besig om van snare te verander?-

- Nici de Wet