Die American Idol-aanbieder en mediamagnaat Ryan Seacrest is onlangs skoon uitgeboul deur die plaaslike sangeres Filipa se stem. Die 18-jarige fonds se weergawe van die One Direction-liedjie Story of My Life het vir haar die eerste plek losgeslaan in sy kompetisie waarin hy die beste YouTube-vertolking van ’n trefferliedjie soek.

Ons het Filipa se raad gevra oor hoe om op YouTube raakgesien te word

“Kies ’n gewilde liedjie wat op die internasionale trefferlyste is. Maak ’n unieke produksie daarvan, nie net ’n presiese nabootsing van die oorspronklike nie. En maak seker die vervaardigers doen dieselfde goeie werk as wat hulle met die vervaardiging van ’n oorspronklike liedjie sou doen. Skiet ’n professionele musiekvideo, ook asof dit jou eie liedjie is.”

Koop-koop beroemd 

Bethany Mota (18) het meer aanlyn volgers as Lady Gaga en maak miljoene uit inkopievideo’s wat sy op YouTube laai. Dié Kaliforniese tiener is so gewild dat ’n onderneming ’n klere-en-juwelierswarereeks na haar vernoem het. En haar Instagram-profiel, waar sy foto’s van haarself en haar klere deel, het meer as twee miljoen volgers – dis meer as die modetydskrifte Vogue, Elle, Marie Claire, Glamour en Cosmo saam!

Sy het haar eerste treë as tiener-inkopiekoningin gegee nadat sy by die skool geboelie is. “Ek wou met niemand praat nie. Ek wou nie my huis verlaat nie,” sê sy. Toe wend sy haar na YouTube as ’n “soort uitlaatklep om myself te wees”.

Sowat vyf miljoen mense volg nou haar YouTube-kanaal. Gaan loer ’n bietjie by www.youtube.com/user/Macbarbie07?feature=watch

Ekstra bron: Daily Mail