I'm singing in the rain

Just singing in the rain

What a glorious feeling

I'm happy again

Wie ken nou nie dié opbeurende deuntjie wat Gene Kelly destyds in die 1952 film gesing het terwyl hy dolgelukkig in die reën dans nie?

Binnekort gaan gehore in Kaapstad en Johannesburg meegevoer raak deur 'n plaaslike produksie van Singin' in the Rain.

Dit bevat wonderlike klopdanspassies en al die bekende liedjies uit die MGM-klankbaan, onder meer Good Morning, Make ‘em Laugh en Moses Supposes.

Die betowerende Singin’ In The Rain-toneel waar dit op die verhoog reën, is een van die groot hoogtepunte van die vertoning en laat die mense voor in die gehoor natter as toe hulle by die teater aangekom het.

Singin' in the Rain speel in 1927 af en vertel die verhaal wat Gene Kelly en Debbie Reynolds met die ikoniese MGM-rolrent van 1952 bekend gemaak het – van die eerste Hollywood-musiekblyspel toe die silwerdoek sy stem gekry en stilrolprente, en van sy sterre, agtergelaat het.

Dis ’n skitterende komedie oor die rolprentbedryf met sy egosentriese sterre, onmenslike rolprentmagnate, wispelturige aanhangers, klassieke “goue-era”-bewegings en slapstick-humor.

Don Lockwood is ’n stilrolprentster wat alles het wat hy kan begeer – roem, bewondering en ’n goed gepubliseerde “romanse” met sy medester Lina Lamont.

Maar Hollywood is op die punt om vir altyd te verander en daar loop ’n gerug in die ateljee van ’n nuwe soort rolprent waar die akteurs regtig praat, sing en dans.

Kan Don en Lina, met haar unieke stem, die oorgang maak en sal die koormeisie Kathy Selden haar droom van roem vervul en in die proses Don se hart wen?

Huisgenoot het 'n voorsmakie van die danspassies van Don (gespeel deur Grant Almirall) gekry. Kyk net hoe laat waai hy!

Meer as 12,000 liter water word tydens elke produksie gebruik, maar moenie bekommerd wees nie: elke druppel word herwin.

Singin' in the Rain begin 11 Desember in die Kunstekaap in Kaapstad. Kry jou kaartjies vandag nog by Computicket.

Ná die Kaapse speelvlak op 10 Januarie 2016 eindig beweeg die produksie na Montecasino in Johannesburg waar dit op 15 Januarie begin. Kaartjies vir daardie vertonings kan ook by Computicket gekoop word.