Johnny Miller, ’n Kaapse fotograaf, het laas Dinsdag, 15 November, met ’n hommeltuig foto’s sowat 500 m vanaf Clifton se Vierde Strand en Kampsbaai geneem. Op die foto’s is ’n melkagtige wolkvorm onder die water sigbaar. Volgens Johnny is dít die riool wat in die oseaan gestort word.

A photo posted by Johnny Miller (@millefotosa) on

Johnny het dié foto’s op Facebook en Instagram geplaas. “As jy by een van die strande swem, swem jy basies in verhoogde e.coli-vlakke sonder dat jy dit besef. Siende dat duisende mense dié strande in die somer gebruik, is dit potensieel ’n groot probleem. “Die stad sê die rioolwater word behandel deur ’n siftingsmetode, maar ek het eerstehands gehoor die siwwe is beskadig en gebreek. Dit beteken as jy in die gebied bly, kan enigiets wat by ’n toilet afgespoel word, in die oseaan beland. Dit is onaanvaarbaar,” het Johnny by sy inskrywings geskryf.

A photo posted by Johnny Miller (@millefotosa) on

Ernest Sonnenberg, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste, sê die rioolwater word gesif sodat soliede dele, toiletpapier en voorwerpe groter as 3mm daaruit verwyder word. Bakterieë word ook gemonitor en behandel.

Volgens Ernest verminder dié proses die konsentrasie van besmetting in die water met 99 persent voor dit in die see gestort word.

“Die uitlope is ook ’n redelike afstand van die kuslyn, so die vervoer van afvalwater na die strande of ander gebiede waar mense in kontak met die water is, word basies uitgeskakel.

“Die strande naby die uitlope toon geen teken van e.coli nie. Strande soos Clifton en Kampsbaai behou al jare lank hul status as blouvlagstrande. Dit sou nie moontlik gewees het as die water weens die uitlope besmet was nie.

“Daarby het die Kaap van die wêreld se sterkste en kragtigste oseaanstrome wat die afvalwater baie vinnig verdun. Enige teken van besoedeling op strande is eerder weens aktiwiteite op land as die uitlope.”

Johnny is lid van ’n projek wat deur die organisasie Social Weaver van stapel gestuur is om oor drie weke vyf keer ’n week watermonsters by Clifton en Kampsbaai se strande te neem.

Die projek word deur Code of Africa gefinansier. Johnny doen die fotografie vir die projek deur middel van ’n hommeltuig.

Volgens Johnny is hul einddoelwit om die publiek bewus te maak van wat aangaan “so naby ons bekende en pragtige strande. Ons doel is om ’n meer gedetailleerde ontleding te doen van wat eintlik alles in die water is,” sê Johnny.

“Die stad van Kaapstad toets die water net tweeweekliks. Die resultate wat ek gesien het van Januarie tot Junie vanjaar is kommerwekkend weens herhaalde verhoogde vlakke van die bakterieë e.coli en Enterococcus.

“Ons hoop om genoeg bewyse bymekaar te kry om voorspellings te maak gebaseer op getye, die wind en strome oor wanneer en waar die vlakke van bakterieë hoër sal wees.

“Almal wil skoon lug en water hê. Ons wil hê die verwydering van afvalwater moet so deursigtig en gesond as moontlik wees.”

Johnny sê die groot probleme is by Kampsbaai naby Maiden’s Cove, Groenpunt en Mouillepunt.

Die Kaapstadse munisipaliteit het wel maniere om die rioolwater te behandeling om die groot soliede dele uit die water te haal, maar “ten einde laaste is dit rou riool wat in die see inloop naby ons blouvlagstrande. Die besmette water gaan in die sand in en dit gee my ’n naar kol op my maag.”

Die data van die watertoetse gaan daagliks op ’n webtuiste geplaas word.

Ernest sê dié manier – om in die oseaan van afvalwater ontslae te raak – word in stede soos New York, Barcelona en Sydney ook gebruik.

Daarby word die stad se strande tweeweekliks getoets. Clifton se Vierde Strand, Llandudno en Kampsbaai word weekliks getoets om seker te maak die water is van die gehalte wat op ’n blouvlagstrand verwag word.

Die verwydering van afvalwater deur ’n effektiewe uitloop met voorafbehandeling is ’n bekostigbare, effektiewe en betroubare oplossing wat maklik is om in stand te hou met minimale impak op gesondheid en die omgewing, sê hy.

“Omgewingstudies wys dat die see-uitlope goed en binne hul kapasiteit funksioneer met geen bedreiging vir die watergehalte op ons strande nie. Verskeie van die stad se 27 rioolwaterbehandelingsaanlegte benodig wel ’n dringende toename in  behandelingskapasiteit om die vinnig groeiende stad te akkommodeer.”