Die polisie ondersoek Justin Bieber glo vir poging tot roof.

Die 20-jarige sanger het glo Maandag (12 Mei 2014) in ’n voorval met ’n jong vrou betrokke geraak. Hy het gedink sy neem hom met haar selfoon af terwyl hy by Sherman Oaks Castle Park in Los Angeles mini-gholf gespeel het.

Die vrou beweer Justin het aangedring om haar foon te sien sodat hy die foto’s kon uitvee en het dit uit haar sak gegryp toe sy weier.

Sy het met die ster begin stoei vir die foon. En al het hy dit uit haar hande geruk, kon hy nie tot die foto’s toegang kry nie, want die foon was gesluit.

Justin het toe geëis dat sy dit ontsluit en sy het bewys sy het geen foto’s geneem nie.

TMZ berig: “Sy sê sy het vir Justin gesê sy en haar 13-jarige dogter wou net hallo sê en Justin het geskree: ‘Jy verneder jouself voor jou dogter. Hoekom maak jy nie net dat hy hier wegkom nie?’ Haar dogter het begin huil.”

Ná die voorval het sy ’n klag by die Los Angeles-polisie ingedien.

Die beampte Rosario Herrera het The Huffington Post ingelig die polisie het Justin nog nie van ’n misdaad aangekla nie, want dis te vroeg in hierdie stadium van die ondersoek.

Intussen word Justin binnekort vir bestuur onder die invloed verhoor nadat hy in Januarie in Florida in hegtenis geneem is.