Haar dogter van 11 se maats het haar begin ignoreer, vertel ’n ma op Huisgenoot-SuperMa se Facebookblad. “Sy word eenkant toe geskuif en moet pouses alleen speel. My dogter is ’n stil, skaam kind, maar sy het ’n baie mooi geaardheid. Dit breek my hart om te weet sy is alleen by die skool.”

Wat behels afknouery?

’n Mens is geneig om te dink afknouery is net iets liggaamliks. Maar om iemand te isoleer deur nie met haar te wil speel nie of maats aan te sê om haar te ignoreer, is ongetwyfeld een van die wreedste maniere waarop ’n kind afgeknou kan word, sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Onder tienermeisies is dit ongelukkig een van die algemeenste tegnieke van afknouery, anders as by seuns, wat mekaar sal rondstamp of met die vuis bydam.

Tog is die prentjie nie so donker as wat dit vir die verstote ampertiener se ma voel nie. Dat die kind die vrymoedigheid gehad het om haar ma van haar probleme met haar maats te vertel, is klaar ’n stap in die regte rigting, sê Claire O’Mahoney van die Sandton Psychology Centre in Johannesburg.

Daarby is dit in dié stadium van ’n kind se lewe normaal om soms uitgesluit te voel. “As ’n mens kyk na die psigies-sosiale ontwikkeling, is die meisie nou in die fase wanneer jong mense uitvind waar en by wie hulle tuishoort. Verhoudings met vriende speel dan ’n groot rol by hul emosionele ontwikkeling. Dit gebeur dikwels dat hulle uitgesluit voel terwyl verhoudings nog aan die vorm en verander is.”

Help jou kind by die huis

  • Bou haar selfbeeld op. “Hou aan om haar emosioneel te ondersteun. Dit is belangrik dat jou kind genoeg selfvertroue opbou om van sulke ‘vriende’ weg te bly en liewer met mense te meng wat haar verwelkom,” is Claire se raad.
  • Help haar ander steunnetwerke skep. “Dit is belangrik dat ander mense in haar lewe haar ondersteun om hierdie verwerping teen te werk,” sê Anel. Dit kan familielede of selfs huisvriende se kinders van haar ouderdom wees.
  • Leer haar hoe om die nare meisies te konfronteer. “Sy moet vir hierdie meisies kan sê wat hulle doen, is gemeen,” sê Anel.
  • Laat haar verstaan haar omstandighede is nie uniek nie; sy sal moontlik later in haar lewe ook sulke mense teëkom, sê Claire. Die belangrikste is nie om die ander meisies te probeer verplig om anders op te tree nie; dis dat sy moet besluit hoe sy die situasie gaan hanteer.

Wat skool betref

Moedig jou kind aan om naweke saam met skoolmaats te speel, sê Anel. Claire voeg by: “Dis belangrik dat sy ook ander kinders in haar klas of skool leer ken en dalk buite die skoolomgewing ’n band met hulle smee. Omdat sy stil en skaam is, moet sy dalk maats maak met kinders wat haar gemaklik laat voel, pleks van dié met ’n persoonlikheid wat hare sal oorheers.”

  • Betrek die skool. “Vir ’n ouer is dit moeilik om te weet wanneer om in te gryp, maar dis belangrik dat die skool bewus is van sulke gedrag sodat hulle dit kan monitor,” sê Claire. Jy hoef nie self met ’n personeellid van die skool daaroor te gaan praat nie; moedig jou kind aan om dit met ’n onderwyser of dalk die skoolsielkundige te bespreek. Hulle kan dalk help met ’n strategie om die situasie te oorkom.
  • As dit nie werk nie, nader self jou kind se klasonderwyser of skoolhoof. “Kinders moet bewus gemaak word van hul verantwoordelikheid om sulke wrede optrede te stuit. As die ander kinders so iets opmerk, moet hulle moeite doen om haar in te sluit en vir die ander meisies te sê hul optrede is verkeerd,” sê Anel.

- Dalena Theron