Bruce Willis het sy herehuis in Beverly Hills vir R216 miljoen in die mark gesit.

Dié akteur van Die Hard-faam het die huis in die Spaanse styl van 964 m2  in 2004 vir R88 miljoen gekoop en wil dit nou teen meer as twee keer meer van die hand sit.

Volgens TMZ is die eiendom met 11 slaapkamers en 11 badkamers naby die Beverly Hills Hotel geleë en spog dit met ’n tennisbaan, swembad en klipfontein.

Dit is nie bekend of Bruce ’n ander eiendom wil koop nadat hy sy landgoed in Beverly Hills verkoop het nie. Hy besit ook ’n kleiner huis in Mulholland Drive in Los Angeles.

Die 58-jarige akteur het drie volwasse dogters by sy eerste vrou, Demi Moore. Hy het sy dogter Mabel Ray by sy tweede vrou, Emma Heming, verlede jaar in die wêreld verwelkom en hy en Emma is op hul gelukkigste wanneer hulle by die huis met die kleinding speel.

Hy het gesê: “Ons probeer haar net heeltyd laat lag. Dis wonderlik.”

Bruce het onlangs verduidelik hy voel meer volwasse noudat hy geleer het om hom nie oor kleinighede in sy lewe te bekommer nie.

Hy het gesê: “Ek het as ’n man verander, liggaamlik en . . . ons sal geestelikheid daaruit hou. Maar volwassenheid? Is ek meer volwasse? Ek weet nie. Ek vertel nou nog dieselfde grappe. Ek doen meestal nog dieselfde goed. Ek is sagter met die mense in my lewe en ek is veel rustiger. Goed pla my nie meer so baie soos voorheen nie.”