Wat net nog ’n lang skof as ’n kelnerin moes gewees het, het onverwags ’n wonderwerk vir Khadija Muhammad ingehou. Dié kelnerin van Knoxville, Amerika, het ’n ekstragroot fooitjie vir haar diens gekry, berig WBIR. ’n Vrygewige klant het byna R12 000 vir Khadijah gelos, en dit nadat die rekening net oor die R300 was.

Toe sy by die tafel kom, het die rekening omgekeer gelê en Khadijah het aangeneem dis weer ’n slegte fooitjie. “Ek het dit opgetel en was geskok. Ek het amper my balans verloor. Ek kon nie (die bedrag) glo nie!”

Die tydsberekening kon nie beter gewees het nie. Khadijah vertel hoe haar ma in Januarie vanjaar ’n hartaanval gehad het en sy ’n  hele paar werkdae misgeloop het. “Toe ek terugkom (van my ma af), het ek besef ek sal nie al my rekeninge kan betaal nie. Van toe af het ek soveel moontlik ekstra skofte gewerk.”

Die oggend voor die wonderwerk-fooitjie, het Khadijah ’n laaste kennisgewing gekry om te sê haar elektrisiteit gaan afgeskakel word as sy nie die rekening teen die volgende dag betaal nie. “Ek het gedink ek gaan ’n wonderwerk nodig hê om deur hierdie maand te kom.”

Die nota agter-op die strokie het haar hartsnare geroer. Daar staan: “Jesus het ons geseën en ons is gelei om dit vir jou te gee. Mag God jou seën!”

Bronne: huffingtonpost.com, wbir.com