Die Britse sanger, wat die seunsgroep in 2015 verlaat het, het verlede Junie vir die eerste keer oor sy persoonlike stryd gepraat nadat hy op die nippertjie van ’n groot optrede in Londen moes onttrek – dit sou sy eerste solo-optrede in Engeland wees – en gesê het hy sukkel “met die ergste angstigheid van my loopbaan”.

Hy het nog ’n solo-konsert wat in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate in Oktober sou plaasvind gekanselleer oor die angstigheid, maar teen Desember het hy ontdek om te skryf – of dit in die vorm van ’n liedjie of in ’n dagboek is – doen wondere vir sy gemoed.

Nou het Zayn in ’n nuwe onderhoud met die Sunday Times Style-tydskrif gesê hy is genees.

“Ek sukkel nou glad nie meer met angs nie. Dit was iets waarteen ek moes baklei toe ek in die groep was.”

Hy het ook gepraat oor sy stryd teen ’n eetversteuring, waarmee hy ook gesukkel het toe hy ’n lid van One Direction was.

Zayn glo die feit dat hy voorheen gepraat het oor sy probleemverhouding met kos het gehelp om die stigma oor eetversteurings af te breek, omdat dit vanaf ’n onverwagte slagoffer gekom het.

“Mense het my krag daarin gesien en dit het gelyk of hulle dit nie van ’n ou verwag het nie, maar wel van ’n vrou, wat vir my waansinnig is,” sê die sanger agter die treffer Pillowtalk.

 

“Ons is almal mense. Mense is dikwels bang om hul probleme te erken, maar ek glo nie jy moet worstel met die waarheid nie.”

Die 24-jarige sanger erken egter dit was meer van ’n “beheerkwessie” tydens sy “georganiseerde en beheerde” tyd in die groep as ’n ware siekte.

“Dit was die een gebied waar ek kon sê: ‘Nee, ek gaan dit nie eet nie.’ Toe ek eers oor die beheer daarvan is, het die etery weer teruggekeer na normaal.”

Zayn sê sy ma se tuisgeregte het hom gehelp om weer gesond te eet.

“Ek het teruggekeer na Engeland en tyd saam met my ma deurgebring en sy’t mooi na my gekyk. Sy’t vir my kos gemaak en ek het weer in voeling gekom, op geestelike vlak, met baie dinge wat ek verloor het.”

© Cover Media