Eers het hy mense laat regop sit as geliefde Afrikaanse musikant in die groep Eden. Nou ryg Sean Else ook die pryse in as rolprentmaker!

Sean se oorlogprent Modder en Bloed het die gehoorprys vir beste drama gewen by die Sedona Internasionale Rolprentfees in Arizona, Amerika.

"Dankie Sedona en die wonderlike mense van Arizona vir die wonderlike gehoorkeuseprys vir beste hoofprent! So trots op al ons spelers en span!" het Sean op Facebook vertel.

Sy vrou, Carla, was net so opgewonde oor die nuus. "Dankie Here!!! Blood & Glory / Modder en Bloed het Best Feature drama gewen by die Sedona international film festival! My skat!!!!! Wow! Ek is so trots op jou!!!! Sean Else ? Rudy Halgryn, Llewelynn Greeff, flip ek tag sommer almal!

Baie geluk aan almal betrokke!!! Wow wow wow!" het sy op Facebook vertel.

Die oorlogprent vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam), ’n Boerekryger en gesinsman wie se vrou en enigste kind tydens die Anglo-Boereoorlog deur Britse soldate vermoor word. Hy beland dan saam met ’n klomp Boere-krygsgevangenes op die afgeleë St. Helena-eiland.

Daar moet hulle die Britte klop in hul eie spel: rugby. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, is Altus Theart, Edwin van der Walt, Bok van Blerk, Deon Lotz en Grant Swanby. Sean het die fliek geskryf en ook die regie behartig.

Dit het verlede jaar April in fliekteaters gewys.

Baie geluk, Sean en die res van die Modder en Bloed-span!