Die Boer Soek ’n Vrou-aanbieder Minki van der Westhuizen (32) se man, die oud-rugbyspeler Ernst Joubert (36), het onlangs ’n diploma ontvang nadat hy ’n kort kursus in bestuursontwikkeling by die Universiteit van Stellenbosch se sakeskool voltooi het.

Proud wifey #mdpgraduate #InspiringAfrica @ernstjoubert

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

“Hy het lank gelede BCom (Bestuursrekeningkunde) na skool studeer," vertel Minki. "Toe het hy professioneel rugby gaan speel. Hy het die afgelope jaar by (die beleggingsmaatskappy) Remgro gewerk en toe het hulle hom op ’n bestuursontwikkelingsprogram gestuur. "Dit was ’n drie of vier maande lange kursus. En hy het ’n diploma gekry,” sê Minki. Die paartjie het twee dogters, Katerien (3) en Elise (2). Ernst het in Augustus met die kursus begin nadat Minki reeds klaar geskiet was aan Boer Soek ’n Vrou. "Ek het dit mooi beplan," vertel sy.

Sundays #girls #katerienlief #elisehartjie

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

Die twee is al vier jaar getroud en het duidelik die skoot nog hoog deur. Sy kan gewoonlik nie uitgepraat raak oor haar "sexy manlief" op Instagram nie. By een foto wat sy onlangs van haar en haar "Errie" by ’n troue gedeel het, skryf sy: “Lekkerste ding”. Te oulik!

Lekkerste ding ? #jerkarlwedding #onlylove

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

Dit lyk of 2017 ook groot dinge inhou vir die Jouberts, wat op Stellenbosch woon. “Ernst is van volgende jaar af by die Stellenbosch-sportakademie wat Remgro besit. Hy gaan die bedryfshoof by die akademie se rugby-instituut wees,” vertel sy vrou trots.

Minki het ook groot dinge in die pyplyn wat werk betref, maar kan vir eers niks daaroor verklap nie.

Die paartjie gaan Kersfees en Nuwejaar op Hermanus en Stilbaai uitspan met hul onderskeie families. “Ek sien vreeslik baie uit daarna. Dit was ’n rowwe jaar en ek het lekker hard gewerk. Ons gaan eers in Hermanus uitspan en dan Kersdag deurry Stilbaai toe na my ouers toe.”

Die sprankelende Minki is in die wolke oor die terugvoer oor die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou wat sy vir die eerste keer aanbied.

“Ek dink dis fantasties en ek is so opgewonde vir die boere. Ek dink daar was ’n paar ongemaklike oomblikke, maar dit maak goeie TV. Ek is baie dankbaar vir die goeie terugvoer van die program.”

Ons kan nie wag om te sien wat 2017 vir die mooie Minki inhou nie!