Die 1980’s-televisiereeks Dynasty, wat mense destyds voor die kassie vasgenael gehou het, keer terug na die klein skerm. En die drama tussen die ryk Carringtons en die Colbys duur voort.

Die Carringtons was ’n skatryk familie van Denver in Colorado wat in ’n vete gewikkel was met die net so buitensporig ryk Colby-familie. Daar was gewoonlik ’n stryery tussen Krystle Carrington (Linda Evans) en Alexis Carrington Colby (Joan Collins).

Sowat drie dekades nadat Dynasty geëindig het in ’n tyd van kleremagsvertoon, glans en oordadige haarstyle, keer dit terug. Die nuus is onlangs bekend gemaak.

Aan die hoof van die ryk was Blake Carrington (John Forsythe) wat met sy sekretaresse, Krystle, getroud was. Die res van die gesin het bestaan uit Fallon, Blake se bedorwe dogter, en Steven, sy gay seun.

Lees ook: Nog ’n geliefde TV-reeks keer terug na die SAUK

Eers teen die einde van die eerste seisoen het Alexis haar verskyning gemaak.

Sy was Blake se bose, wraakgierige eksvrou.

Destyds is die sepie, wat tussen 1981 en 1989 in spitstyd uitgesaai is, beskou as die program met alles – glans, geld en familie-intriges met twee vroue aan die stuur wat nie teruggedeins het vir groot gevegte en selfs groter skouerkussinkies nie.

In die nuwe reeks is Krystle glo haaks met Fallon, haar toekomstige skoondogter. Tot dusver word geen melding gemaak van Alexis nie.

Bronne: Today.com, The Sun, Mailonline.