Drie jaar gelede was hy nog ’n gewone skoolseun wat vir sy skool se eerste rugbyspan uitgedraf en graag in sy ouers se motorhuis in Bloemfontein musiek gemaak het.

Deesdae is Brendan Peyper een van die land se nuwe sangsensasies wat oral te sien en te hoor is.

Hy het in 2015 begin aandag trek toe sy debuutalbum, Stop Wag Bly Nog ’n Bietjie, uitgereik is.

En nou kan sy aanhangers uitsien na Hy Loop Oop, Brendan se tweede album wat van 14 April op die winkelrakke beskikbaar is.

“Dis ’n besige tyd, wat ek 100 persent as ’n seën sien,” beskryf Brendan die afgelope twee jaar.

“Ek is regtig gelukkig om so vroeg te doen waarvoor ek lief is en boonop ’n lewe daaruit kan maak. Dit is net genade.”

Brendan bestee ’n groot deel van elke maand op die pad om konserte te hou, maar dis by sy ouerhuis in Bloemfontein waar hy sy batterye herlaai. Hier is hy nie ’n bekende sanger nie, maar net Brendan.

“By die huis kan ek net weer ’n kind wees en met my hond, Blikkies, speel. ’n Mens word so besig en in werk vasgevang. Dis my passie en lekker, maar by my mense skakel ek af en word ek weer rustig.” Sy ouers, Celeste en Vincent, herinner hom ook om altyd sy voete plat op die aarde te hou.

Harte begin galop wanneer sy aanhangers sy sexy lyf sien. “Dis vir my belangrik om ’n gesonde leefstyl te handhaaf,” vertel Brendan oor hoe hy sy lyf so mooi hou. “Ek eet gesond en die gewigte word agter op die bakkie gelaai sodat ek steeds kan oefen terwyl ek toer.”

Sy nuwe album bevat 15 liedjies, waarvan hy vyf self geskryf het.

“Ek skryf nie baie nie – ek skryf so drie of vier liedjies per jaar. So wanneer ek ’n liedjie skryf, kom dit regtig uit my hart uit,” sê Brendan.

“Ek reis gereeld en dan kruis my pad met verskeie mense. Ek skryf oor hierdie ondervindings, alledaagse dinge en gebeure.”

Hy het reeds verlede jaar aan sy nuwe album begin werk om konsepte en materiaal bymekaar te kry.

“Vanjaar was ek twee maande lank omtrent elke dag in die ateljee om my album op te neem en het ek net nou en dan vertonings gedoen.

“Die klank is baie soortgelyk aan my debuutalbum, maar met die nuwe album is meer insette van my kant af. Dis ’n groot stap boontoe en ek dink mense gaan meer van Brendan hoor,” vertel die blouoog blondekop.

“Dis ’n lekker kuieralbum met sokkietreffers, maar die woorde daarvan maak sin en ons het regtig hard probeer om met elke liedjie ’n storie te vertel – en mense se hart aan te raak.”