Sy is al deur diep waters, maar Amor Vittone (44) kry dit altyd reg om aan te hou glimlag. Maar nou het dié sangeres en televisiepersoonlikheid 'n rede om ekstra groot te glimlag.

Dié Italiaanse boerenooi het pas begin skiet aan ’n nuwe rol in die sepie 7de Laan en sal binnekort as die karakter Zelda aan kykers voorgestel word.

“Ek geniet die karakter vreeslik baie,” vertel Amor meer. “Sy is verskriklik selfversekerd; sy sê ’n ding soos dit is en sy het bietjie kommingeit in haar, so mens kan lekker diep gaan grawe. Dit is lekker uitdagend.”

Zelda is ’n familielid van iemand in Hillside wat in ’n paar mense se slaai gaan krap.

Amor het ’n opname wat haar dogtertjie Kylie (10) van haar geneem het vir die vervaardigers van 7de Laan gestuur. Toe gaan sy vir 'n oudisie en word teruggeroep vir 'n tweede en derde ronde. Sy het eindelik verlede Vrydag gehoor sy het die rol van Zelda losgeslaan.

“Dit is die eerste keer dat ek ’n sepie doen. Alles gebeur baie vinnig en jy moet sorg dat jy jou woorde ken. Jy moet die presiese woorde ken en mag nie improviseer nie. Dit maak jou emosioneel nogal moeg.”

Maar sy is vol lof vir die span by 7deLaan en sê almal is “amazing”. “Ons het ’n dialoog-afrigter wat ongelooflik baie help.”

Sy sê sy voel gemaklik voor die kamera, maar dit bly steeds vir haar ’n uitdaging. “As mens met akteurs hier gesels wat dit al lank doen, hoor jy dat hulle ook skoenlappers kry elke keer wat hulle ’n toneel doen.

“Dit was nogal oorweldigend op die eerste dag, maar dit was asof daar engele om my was en dit het goed gegaan. Daar is baie mense op stel en dinge loop soos ’n masjien.”

Die karakter, wat einde November vir die eerste keer verskyn, sal vir ’n maand in die sepie wees. Amor sê al is dit vir haar ’n aanpassing om lang ure te werk, het sy besluit om net een dag op ’n slag aan te pak.

“Gelukkig is my ma-hulle daar en help hulle waar hulle kan. Joost en sy verpleer sal ook help om die kinders by die skool te gaan haal.”

Amor sê sy was nog altyd bewus van die storielyne in 7de Laan, maar het dit nie slaafs gevolg nie omdat haar seun Jordan (12) gewoonlik die televisie op ’n sokkerkanaal het.

En hoe voel Joost oor die nuwe hoofstuk in haar lewe? “Hy is baie opgewonde en bly ek doen waarvoor ek lief is.”