Ten spyte daarvan dat ’n Pretoriase man reeds in Februarie in hegtenis geneem is vir die verkoop en verspreiding van ’n stof vir die orale behandeling van kopluise by kinders, word die sogenaamde Beatle Juice steeds deur die hele land aan ouers en skole versprei.

Volgens dr. Gerhard Verdoorn, ’n gifspesialis van die Griffon Poison Centre, is die stof uiters gevaarlik, veral vir kinders. “Dit is ’n plaagdoder wat vir sitrusplante en groente gebruik word. Die hoofbestanddeel, fiproniel, kom ook in Frontline voor, wat vir katte en honde gegee word om vlooie te beheer. Maar die konsentrasie in Frontline is baie laer as die een wat ons in Beatle Juice gekry het. Vyf milliliter van die stof is genoeg om ’n kind wat miskien ’n swak immuunstelsel het ernstig siek of dood te maak.”

Die gevaar van die gifstof ten spyt, word dit handig verpak en verkoop: in ’n spuit en met ’n lekker vir die kind om agterna te eet. Die dosis is 0,1 ml vir kleuters en 0,2 ml vir ouer kinders.

Volgens ao. Jacques Oosthuizen, wat saam met die departement van gesondheid die man in hegtenis geneem het, het die middel vinnig versprei en is dit deur ouers en selfs skole aangekoop. “Een ma van Durban het ons vertel sy wou nie die middel vir haar kind gee nie, maar die skool het daarop aangedring en gesê sy kan die geld later terugbetaal. Sy het geweier, en sê daar was een kind wat heeldag by die skool gesit en ruk het nadat hy Beatle Juice ingekry het.” Ander kinders was blykbaar so siek dat hulle nie skool toe kon gaan nie, en daar is selfs bewerings van kleuterskole wat die gifstof vir kinders gegee het.

Volgens die polisiewoordvoerder Wanda Olivier is die probleem meestal onder ouers en skole in dele van Johannesburg, Pretoria, Middelburg en Durban aangetref. Oosthuizen het egter bevestig dat daar onlangs ook verspreiders in die Kaap gevind is.

Die newe-effekte van die gifstof, wat ’n neurotoksien is en dus die senuestelsel aantas, is naarheid, bewerigheid en duiseligheid.

“Moet nooit vir jou kind iets gee wat jy nie by ’n apteek, ’n dokter of by ’n erkende handelaar kan kry nie,” waarsku dr. Verdoorn. Ouers met navrae, of wat verneem dat daar Beatle Juice in hul omgewing gebruik word, kan hom by 082-446-8946 bel.

- Dalena Theron