Dis presies wat in Tampa in die Amerikaanse deelstaat Florida gebeur het.

Die swart-en-wit mannetjieskat Bart is deur ’n kar raakgery en in ’n plas bloed in die middel van die straat gekry. Sy eienaar het gedink hy is dood, want Bart se lyfie was stokstyf.

Hy het Bart toe dadelik begrawe.

Maar die kat kom weer, want vyf dae later sien ’n buurvrou hoe Bart na haar huis aangestap kom. Ernstig uitgehonger, dors en met ’n gebreekte kakebeen het hy nader gehinkepink.

Die buurvrou het toe die kat se eienaar ingelig dat Bart terug is uit die dood, waarna hy hom na ’n plaaslike dierewelsynsorganisasie gebring het.

Personeel by die organisasie sê dit is ’n wonder dat Bart so lank oorleef het onder die grond, en des te meer dat hy die krag gehad het om hom uit sy graf te grawe.

Buiten sy gebreekte kakebeen het Bart ook ernstige wonde aan sy gesig en sy linkeroog makeer. ’n Veearts het Bart se kakebeen geopereer, maar dit sal na verwagting baie lank duur voor hy weer sy ou self sal wees.

Kyk hier na die video:

Bronne: ABC NEWS; GAWKER