Katrina Bookman het verlede Augustus die boerpot by die Resorts World Casino in New York geslaan en ’n selfie geneem van die masjien wat lui: “druk kontantkaartjie $42,949,672.76”.

Maar toe sy haar wengeld wou opeis, het die dobbelplek beweer dit was ’n masjienfout en in plaas daarvan vir haar ’n gratis biefstuk-ete van $2.25 aangebied.

Sy is teleurgesteld daar weg, maar ná sy maande lank probeer het om haar geld by die dobbelplek te kry, het Katrina besluit om hulle te dagvaar. 

CNN Money het toe berig dat Dan Bank, woordvoerder van Resorts World, om verskoning gevra het en aan CNN gesê het “personeel by die dobbelplek kon vasstel dat die bedrag wat vertoon is die gevolg van ’n duidelike wanfunksie was – ’n feit wat later deur die staat van New York se dobbelkommissie bevestig is.”

Dié kommissie het ook in Augustus gesê die masjien het ’n vrywaringskennisgewing wat lui: “In die geval van wanfunksies is alle betalings en speletjies ongeldig.”

Katrina se prokureur, Alan Ripka, beweer dat hy besonderhede by die dobbelplek probeer kry oor wat die wanfuksie veroorsaak het, maar het nog geen inligting ontvang nie. “Jy kan nie beweer ’n masjien is stukkend omdat jy wil hê dit moet stukkend wees nie. Beteken dit dis nie ondersoek nie? Beteken dit dis nie onderhou nie?” het Ripka aan CNN Money gesê.  

Katrina het aan Daily News gesê sy het amper geen emosie ervaar toe sy besef sy’t gewen nie, maar was teleurgesteld toe sy nie haar geld kry nie. “Daar was niks fout met die masjien toe ek dit gespeel het nie,” sê Katrina. 

“Hoe weet ons as daar ’n probleem daarmee is? Maar toe ek die boerpot slaan, toe word daar gesê dis ’n probleem. Ek dink nie dis regverdig nie. En dan bied jy my ’n ete aan? Ek voel hulle het my ’n rat voor die oë gedraai.”

Alan het gesê die dobbelplek moet die geadverteerde bedrag uitbetaal en sê die dobbelplek het dieselfde stukkende masjien gebruik om geld van spelers te vat, en dat almal wat die masjien gebruik het ten minste hul geld moet terugkry.

“Sy het gedink haar en haar familie se lewe sou vir altyd verander. Jy kan nie jou brood alkant gebotter wil hê nie. Hulle sê die masjien was stukkend. Beteken dit nie dat ’n plek nou kan beweer ’n masjien is stukkend elke keer as iemand wen nie?”

Bronne: BBC, Daily Mail, CNN Money, NY Daily News