Terry Evans was “absoluut gewalg” toe sy uitvind haar seun het ’n nuwe meisie by die skool afgeknou.

Die enkelma het toe haar 12-jarige seun op Facebook verneder in ’n inskrywing wat intussen vinnig aanlyn versprei het.

“Ek is heeltemal gewalg dat my 12-jarige seun gedink het dis oukei om opsetlik op ’n nuwe meisie se voet te trap by die skool en om sy voet met soveel mag te draai dat dit haar splinternuwe skoene gebreek het,” het die woedende ma geskryf.

Sy skryf verder as haar seun, Jacob, “selfs net op ’n afknouerige wyse in haar of enigeen se rigting asemhaal, sal ek hom persoonlik aan hul ouers oorhandig vir elke vernederende takie wat hulle dink hy kan doen vir so lank as wat hulle wil”.

Terry het onder die hutsteken ?#?iwillnothaveabullyinmyhouse verder geskryf haar seun sal sy “verjaardaggeld tot siens moet soen” want hy gaan vir die meisie ’n nuwe paar skoene en blomme daarmee moet koop.??

Lees ook: Beskerm só jou kind teen ongepaste inhoud op die internet

Die woedende ma het aanvanklik haar seun op Facebook bygehaak in die inskrywing, maar dit verwyder toe die inskrywing al meer as 58 000 keer gedeel is.

“Hy was bygehaak voor dit so wyd versprei is (wat ek nie besef het sou gebeur nie) sodat sy vriende kon sien sy dade hou gevolge in. Hy’s nie groot, slim of snaaks nie. Hy’s ’n 12-jarige seun wat vir sy ma moet antwoorde gee,” het sy op Facebook geskryf.

Die inskrywing, wat intussen verwyder is, het gelei tot gemengde reaksie van die publiek. Waar sommige die ma geloof het vir haar ouerskapstyl, was ander glad nie beïndruk nie en het hulle Terry daarvan beskuldig dat sy haar seun boelie.

“Ek verstaan jy wil jou seun ’n bietjie in die verleentheid stel oor sy optrede, maar om hom op Facebook uit te trap, is boeliegedrag. Hy’t duidelik sy gedrag by jou gekry. Dis jammer jy besef dit nie,” het Carol Cunningham opgemerk.

Lees ook: Ma vaar uit teen internetboelies wat foto van haar seun in meme gebruik

“Dis ’n ongelooflik gevaarlike ding om aan enige kind te doen. Wat nog meer verontrustend is, is die groot aantal mense hier wat nie die gevare insien van wat sy gedoen het nie,” het Michael Crowley geskryf.

Terry het so gereageer: “Ek steur my nie aan diegene wat nie met my ouerskapstyl saamstem nie. My seun het ’n meisie verneder en ongeag sy redenasie daaragter (dat hy nie gedink het die skoen sou breek nie; hy’t net gedink dit sou dalk uitglip of sy sou struikel) het die meisie steeds gehuil. Vir al wat ons weet, het daardie meisie haar vorige skool verlaat omdat sy geboelie is . . . dink net hoeveel erger my seun se simpel optrede haar dan sou laat voel.

“Dus is my sogenaamde vernedering aanlyn niks in vergelyking met die vernedering wat die meisie moet trotseer om as nuweling met ’n stukkende skoen en rooigehuilde oë rond te loop nie. En natuurlik het ek met hom gaan sit en gesels oor sy gedrag. Ek het hom nie net in ’n inskrywing bygehaak en hy’t dit toe daar gelees nie. Ek’s vol vertroue dit was ’n enkele voorval wat nie herhaal sal word nie.”

Bronne: independent.co.uk, news.com.au

Lees ook op Huisgenoot.com:

Tennisster toets positief vir verbode middel

Afrikaanse werklikheidstelevisie-deelnemer sterf: ‘Sy was my rots en my held,’ vertel sussie

Dié SA stad spog met die meeste miljoenêrs

Is hierdie ook hoe jou jammerlike man reageer as jy hom saamsleep winkels toe?

Derick Hougaard vertel hoekom hy huurders vir sy huis soek