Boonop kry Theuns ’n “slu”-kyk op sy gesig as hy die liedjie sing, sê Gert.

Gert skryf in ’n emosionele brief op Facebook Theuns baai al vir jare in die glorie van Gert se groot treffer, dat hy maar krepeer van armoede en Theuns nooit juis gehelp het sodat Gert vergoed word vir die gebruik van sy liedjie nie.

“Nee Theuns. Ek het lank genoeg stilgebly oor jou. Laat ons dit mooi verstaan dat ek jou nie haat nie, maar ek sou graag lief vir jou wou wees en ek dink dit is moontlik,” skryf Gert.

“Jy het Beautiful in Beaufort-Wes gesteel. Jy het my nooit gevra of jy dit kan opneem nie, Ook het niemand wat betrokke was by die opname my gebel en gevra of dit reg is as hulle dit doen nie, ek het jou daai tyd nie geken nie. Was dit omdat daar gedink is dat ek nee sou sê?

“Ek glo vandag nog dat in die kamer waarin die kunstenaar is is daar net een persoon, ek sou nee sê.”

Gert skryf verder: “Die eerste keer wat ek jou dit hoor sing het was by die KKNK in 1999 of 2000. Ek het saam met my oom Goegie afgeloop in die straat verby ’n groot tent waarop Huisgenoot geskryf was en hy het vir my gesê iemand sing jou song, dit was jy.

“Kort daarna het ek jou op Maak ’n Las op tv gesien waar jy my song sing voor ’n miljoen mense (ek was daardie aand op Beaufort-Wes) sonder om my naam te noem. Daarna was jy beroemd en natuurlik baie ryker.

“Ek was, sonder geld, een aand by daai plein in Potchefstroom (was dit 2000 of 2001?) toe jy jou tweede of derde album bekend gestel het. Jy het jou ander ‘nuwe’ songs gesing, maar die mense het die hele tyd geroep ‘beautiful’. Ek het dit gehoor. As jy die bekfluitljie begin speel op die song kry jou gesig iets slu.

“Ek het vanaf 2001 vir amper agt jaar weer op Beaufort-Wes gebly. Ek en my familie het daardie jare gekrepeer.

“Daar is ’n storie oor jou en my en die Royal Hotel op Beaufort-Wes en 'n honeymoon couple wat ek wyd en syd vertel, maar ek gaan dit nie nou hier herhaal nie.

“Safe to say die honeymoon couple het vir die barman gesê hulle het verlief geraak op Beautiful in Beaufort-Wes van Theuns Jordaan op ’n dans in die Transvaal, hulle het getrou op Beautiful in Beaufort-Wes van Theuns Jordaan in die Transvaal en hulle het pas by die Royal Hotel in Beaufort- Wes aangekom; hulle kom hou hulle honeymoon in Theuns se tuisdorp.

“Nie hulle of die barman het geweet dis my song nie, ek was sitting there saying never a word.

“Wat het jy my betaal? Niks.

“Deur die 18 jare het ek, met ongelooflike moeite, seker maar R8000 van jou albumverkope altesaam verhaal, van jou labels, sonder enige hulp van jou, alhoewel my song op 500 000 verkoopte albums van jou is. Of is dit meer?

“En dan is daar die live performances, Daardie brawe bank SAMRO sê jy sing my song net twee keer live in ’n jaar. Dink jy dit is waar?

“Vir seker is ek ’n psigopaat, 'n alkoholis, ’n k*k pa en ’n loser soos ek al so baie beskryf is deur vroue wat my aanvanklik verwar het met jou, maar as een vrou of man weer vir my sê ek sing jou song, soos vandag, of vra: ‘Het jy die song vir Theuns geskryf?’ of ‘Het Theuns dit geskryf?’ gaan ek sê nee, meneer of mevrou.

“Maar dis nie jou song nie Theuns, dis my song.”

Theuns se kommentaar sal bygewerk word.