Die hofsaal was stampvol en talle hofgangers het pienk hemde ter ondersteuning van Rene se familie gedra.

Toe die landdroshof se deure oopswaai, het van dié wat buite gewag het, vir Andrew Plaatjies (50), die beskuldigde, geskree: “Hier is die ding! Hier is die ding!”

Hy het ’n groen-en-geel sweetpakbaadjie en jeans aangehad en heeltyd afgekyk. Die saak is tot 25 April uitgestel nadat hy aangedui het hy wil om borgtog aansoek doen. Terwyl hy na die aanhoudingselle teruggeneem is, het Rene se familie en vriende geskree: “Andrew gaan vrek!” ’n Groep vroue het buite die hof met plakkate hul boodskap oorgedra: “No bail, vrot weg”, “No bail ongevoelige vark” en “Genoeg is genoeg”.

Rene is op 10 Maart laas in die Lavender Hill-gebied gesien. Op 21 Maart is die polisie na St. Agatha-straat in die buurt ontbied.

“Toe polisielede die hut oopmaak, het hulle die gedeeltelik ontbinde lyk van ’n onbekende vrou gevind. Sy was met ’n mat bedek,” het FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, op Woensdag 22 Maart bekendgemaak. Haar hande en voete was vasgebind en sy was halfnaak. In daardie stadium was daar reeds ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting wat daartoe sou lei dat Rene opgespoor en veilig by die huis besorg word. Op 23 Maart moes Rene se ouers egter die nuus aanhoor dat hul kind dood is. Meer nog, sy is in dieselfde straat gevind as waar hulle woon.

In Rocklands, Mitchells Plain, ’n paar kilometer van die hof, het nog ’n gemeenskap vandag afskeid geneem van ’n 11-jarige meisie wat onlangs vermis geraak het. Stacha Arends se lyk is ’n dag ná haar verdwyning in die bosse agter die Swartklip-sentrum gevind.
Randy Tango (31), wat twee huise van Stacha en haar gesin woon, is intussen in hegtenis geneem. Hy is van ontvoering, verkragting en moord aangekla. Tango was ten tyde van die voorval op parool nadat hy tronkstraf uitgedien het vir motordiefstal.

Bykomende bron: news24.com